|

’n Hardekool het geval

Mangosuthu Buthelezi, Inkosi, Eerste Minister en Prins: 27 Augustus 1928 – 9 September 2023

Saterdagoggend, 9 September, is gemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika begroet met die nuus dat prins Mangosuthu Buthelezi, Inkosi van die Buthelezi-stam en eerste minister van die Zoeloe-koning en -nasie in die vroeë oggendure die tydige vir die ewige verwissel het.

Met die afsterwe van koning Zwelithini KaBhekuzulu het ’n afvaardiging van AfriForum medelye met die Zoeloe-koninklike familie gaan betuig. Op daardie dag het die ander manlike lede van die koninklike familie die oorskot van koning Zwelithini gaan haal, so ons afvaardiging is deur Prins Buthelezi en die vroulike lede van die koninklike familie ontvang, waaronder prinses Alice KaSolomon die dogter van koning Zwelithini se oupa koning Solomon KaDinuzulu was. Omdat die koning ’n toegewyde en uitgesproke Christen was, het ons as ’n boodskap van vertroosting voorgelees uit Jesaja 55 vers 8 -12 en ook vir die familie gebid.

Prins Buthelezi het nadat ons preekbeurt verby was, vir ons dankie gesê vir ons boodskap. Hy het voortgegaan deur te vertel van die goeie verhoudings en samewerking wat daar was tussen die Zoeloes en die Afrikaners in die tyd van sy oupa se oupa, koning Mpande KaSenzangakhona en ook in die tyd van sy oupa, koning Dinuzulu KaCetshwayo. Teen daardie tyd was Prins Buthelezi al oud, maar ek sal nooit vergeet hoe hy ’n paar jare afgeskud het as hy eers begin praat het nie.

Eenmaal tydens ’n gesprek met die Prins het hy vertel dat hy tydens die verhore van die Waarheid-en-Versoeningskommissie namens die Zoeloes verskoning gevra het vir die moord op die Retief-geselskap in opdrag van koning Dingane. Dit het my diep getref – ons as Afrikaners verwag immers nie van die huidige geslag om verskoning te vra vir die dade van ’n reeds lank afgestorwe geslag nie. Maar so toegewyd was Prins Buthelezi aan werklike versoening en vreedsame naasbestaan.

Prins Buthelezi het gedien as eerste minister vir drie Zoeloe-konings. Hy is aanvanklik aangestel deur koning Bhekuzulu KaSolomon, wat net soos die Prins ’n kleinseun was van koning Dinuzulu. Daarna dien hy ook as die Eerste Minister van koning Zwelithini KaBhekuzulu en in sy laaste jare ook die huidige monarg, koning Misuzulu KaZwelithini. In hierdie opsig volg hy ook in die voetspore van sy Buthelezi-oupa, Mnyamana, wat die eerste minister van koning Cetshwayo KaMpande was.

Om die verrykendheid van ’n Buthelezi-eerste minister vir ’n Zoeloe-koning te begin verstaan, moet mens vêr in die geskiedenis teruggaan, in die tyd toe Inkosi Dingiswayo van die Mtetwa die sterkste stamkoning was onder die Nguni-stamme van die gebied wat ons vandag as KwaZulu-Natal ken. Koning Dingiswayo was besig om met minimum geweld Nguni-stamme onder sy leierskap te verenig, in iets soos ’n konfederasie, aangesien hy die stamkonings steeds as die leiers van stamme erken en laat optree het nadat hulle oorwin is of op ’n vreedsame wyse oortuig is om by sy konfederasie aan te sluit – Inkosi Dingiswayo was ’n man van vrede en het laasgenoemde benadering verkies. Die Buthelezi, toe onder die leierskap van Inkosi Pungashe, is nie deur onderhandeling oortuig om hulle aan Inkosi Dingiswayo te onderwerp nie en daarom het Inkosi Dingiswayo hulle die stryd aangesê. Op dié dag was die latere koning Shaka ’n bevelvoerder oor 50 in die Izecwe-regiment en volgens oorlewering was dit die eerste keer wat koning Shaka sy nuwe steekassegaai, Ixwa, gebruik het en ook kaalvoet geveg het. Die Buthelezi is verslaan en Inkosi Pungashe het hom aan Inkosi Dingiswayo onderwerp.

Wat vandag nie algemeen bekend is nie, is dat die Zulu- en Buthelezi-stamme aardsvyande was. Konings Shaka, Dingane en Mpande se pa, SenZangakhona KaJama, is verskeie kere deur Inkosi Pungashe gevang en verneder, daar was dus ’n ou vete tussen die stamme. Een van die eerste stamme wat koning Shaka met geweld onderwerp het toe hy Inkosi van die Zoeloe-stam geword het, was juis die Buthelezi. Na die skokkende en onverwagse oorwinning van die Zoeloe-stam oor die Buthelezi (as gevolg van koning Shaka se nuwe oorlogstaktiek en wapens) het Inkosi Pungashe gevlug en het van die toneel verdwyn.

Prins Buthelezi se eerste ministerskap (in navolging van sy voorouers) was dus ’n lewende bewys dat diepliggende en volhoubare versoening moontlik is, en dat ou strydbyle werklik begrawe kan word. (Hier word nie gepraat van die hol “versoening” van die heersende elite wat een groep permanent tot skurke en ’n ander groep tot slagoffers maak nie.) Vetes van selfs eeue gelede belemmer vandag nog samewerking en naasbestaan tussen en binne kultuurgemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika – hier is dus werklik wysheid te put.

Prins Buthelezi se politieke bydrae is meer bekend. Hy het destyds sanksies teengestaan omdat hy van mening is dat dit tot nadeel van gemeenskappe in die land sou strek. Hy het geweier om geweld te gebruik om die vorige orde te beëindig, omdat hy dit as onchristelik beskou het. Hy het in die vroeë jare ’90, in navolging van ander koninklike leiers in 1910, homself beywer vir ’n meer federale bedeling – in daardie opsig het hy deelgeneem aan gesprekke met Afrikaners en die Tswana-sprekendes. Daar is diegene wat beweer dat Prins Buthelezi in die pad gestaan het van die verandering van die orde in Suid-Afrika en dat hy die proses probeer vertraag het. Maar daar is die van ons wat self gemeenskapsmense is wat verstaan dat Prins Buthelezi, soos ’n ware leier, opgetree het in belang van sy kultuurgemeenskap om ’n beter orde te beding. Hy het alles in sy vermoë gedoen om te verseker dat sy koning, wat hy getrou gedien het, ’n regmatige plek kan inneem. Hoe kon hy as eerste minister aan onderhandelinge deelneem terwyl die koning uitgesluit word? Een van sy belangrikste nalatenskappe is egter dat hy daarin geslaag het om die grond van die Zoeloe-koninkryk, en daarom die Zoeloes as kultuurgemeenskap self, deur middel van die oprigting van die Ingonyama Trust, te beskerm.

In latere jare wou die ANC ’n standbeeld van Louis Botha in Durban verwyder; Prins Buthelezi het die mense daaraan herinner dat koning Dinuzulu deur Botha met Uniewording uit die tronk op Newcastle vrygelaat is en toegelaat is om op ’n plaas in die Middelburg-omgewing (in Mpumalanga) te vestig. Daar is toe eerder ’n standbeeld van koning Dinuzulu naas die van Louis Botha opgerig. Om dieselfde rede was Prins Buthelezi gekant teen die naamsverandering van Generaal Louis Botha laan in Pretoria.

Wanneer mens in Prins Buthelezi se privaatsitkamer by sy tuiste, KwaPhindangene, sit en mens kyk na alles wat daar oor ’n tydperk van amper 100 jaar versamel is, besef ’n mens: hierdie was ’n man wat nie die gerief van die kantlyn opgesoek het nie, dié man was ’n leier, die man was ’n familie- en volksman – dié man was ’n Christen.

Die vriese in die heldesaal van die Voortrekkermonument lewer stille getuienis van Afrikaners se sweet, trane en bloed in ons strewe na selfverwesenliking. Mens se oë beweeg vanaf die bekende vries van koning Dingane en Piet Retief by die onderhandelingstafel, dan die moord op die Retief-geselskap, die slagting by Bloukrans en Moordspruit, die heldedade van die kinders Dirkie Uys en Marthinus Oosthuizen. Die vroue wat die mans moed inpraat, die koms van Andries Pretorius, die aflegging van die Gelofte en dan die Slag van Bloedrivier – en daar stop dit nie. Die Geloftekerk word gebou, die vroue hou soos altyd huis en haard bymekaar wanneer die mans weg is, en dan – koning Mpande en Andries Pretorius wat as bondgenote langs mekaar staan.

Ons voorouers het nie gehuiwer om erkenning te gee aan bondgenote wat ons op ons moeilike reis na vryheid bygestaan het nie – dit is verewig in die marmer by ons monument wat so na aan ons hart is.

Daarom is dit gepas dat daar vandag op die Voortrekkermonument-terrein ’n gedenkdiens gehou word vir Inkosi, eerste minister en prins Mangosuthu Buthelezi, ’n gerespekteerde vriend van die Afrikaners en ook ’n mede-gelowige – terwyl die afbeelding van sy oupa se oupa langs Andries Pretorius binne die monument stille getuienis lewer dat dié vriendskap se wortels geslagte terug lê.

Soortgelyke plasings