|

Nuuskommentaar: ANC-regering diep in die skuld; hoër belasting dalk ons voorland

Suid-Afrika is weens die ANC-regering diep in die rooi en pleks daarvan om hul amptenare se betaalstaat te snoei, oorweeg die regering eerder om BTW te verhoog of om kritiese dienste na van die armste burgers te verminder.

Noxolo Kiviet, minister van Staatsdiens en Administrasie, het in ’n vraag-en-antwoord-sessie in die Nasionale Vergadering gesê loonverhogings vir die 2023-’24- en die 2024-’25-boekjaar wat aan staatsamptenare toegestaan is, sal belastingbetalers R60 miljard uit die sak jaag. Staatsamptenare het onder meer in 2023-’24 effektief ’n verhoging van 7,5% ontvang. Die inflasiekoers word beraam teen omtrent 4,5% tot 5,5%. Dit blyk dus asof staatsdienswerkers al hoe ryker word terwyl die meeste ander Suid-Afrikaners al hoe armer word.

Opposisiepartye bestempel hierdie situasie met goeie rede as onvolhoubaar.

Staatsamptenare se vergoeding beloop ongeveer ’n derde van die regering se uitgawes. Sou dit wees dat die staat fantastiese of selfs net goeie diens gelewer het, sou ’n mens dalk kon sê dat dié salarisse regverdigbaar is. Ongelukkig is staatstrukture deurspek met vrot kolle van kaders wat hul werk gekry het op grond van wie hulle ken eerder as hul kwalifikasie of ervaring.

Suid-Afrika “spog” ook met meer ministers as onder meer die VSA, Japan of Duitsland. Baie meer mense ontvang boonop toelaes as wat daar belastingbetalers is en die land betaal jaarliks miljarde aan rente op sy skuldlas. Gelukkig dan dat die ANC-regering planne het om die kabinet en regering kleiner te maak. President Cyril Ramaphosa het hierdie plan eintlik reeds in 2018 aangekondig en tog het hy in Maart vanjaar nog twee ministers tot sy kabinet gevoeg.

Dan hang die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering-plan ook nog soos ’n swaard oor die land.

Daar is glo ook planne om die R350-toelae wat vir verligting tydens die Covid-19-pandemie ingestel is, verder te verleng. Dan hang die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering-plan ook nog soos ’n swaard oor die land. Dié wetsontwerp is al uit verskeie oorde gekritiseer.

Een van die meganismes wat die ANC-regering oorweeg om hul hande op meer geld te kry, is om BTW met 2% te verhoog. BTW is so onlangs soos 2018 met 1% verhoog. Weereens sou ’n mens kon redeneer dat die verhoging in isolasie gesien nie noodwendig ’n slegte ding is nie. Fondse kan byvoorbeeld aangewend word om munisipaliteite reg te ruk, werk te skep of om armoede oor die algemeen te verlig, maar die ANC het al oor en oor bewys dat geld net in kaders se koffers beland.

’n Mens hoef nie ’n kernkragwetenskaplike of selfs iemand wat hoërskoolwiskunde geslaag het te wees om te sien dat hierdie somme, planne en praatjies nie klop nie. Margaret Thatcher het by geleentheid gesê die probleem met sosialisme is dat ander mense se geld uiteindelik opraak. Dit wil voorkom asof die ANC-regering nog nie tot hierdie besef gekom het nie.

Soortgelyke plasings