| |

AfriForum-buurtwagte se reaksie-eenhede groei

AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling het die afgelope week sy negende protospanopleidingskursus aangebied. Die 26 studente wat aan die kursus deelgeneem het, is almal AfriForum-buurtwagvrywilligers.

Protospanlede is die sogenaamde spiespunt van AfriForum-buurtwagte se reaksiespanne en ontvang gespesialiseerde opleiding wat hand-tot-hand-gevegskuns, mediese opleiding, die beveiliging van tonele en taktiese vuurwapenwapenhantering insluit.

Die organisasie het tot op hede 160 protospanlede opgelei. AfriForum bied ook weekliks basiese buurtwagopleiding aan wat aspekte soos misdaadtoneelhantering, inligtinginsameling, regsaspekte en huis-en-haard-beskerming insluit. Die afgelope twee jaar het meer as 7 000 vrywilligers hierdie opleiding voltooi.

AfriForum het 168 veiligheidstrukture landswyd met byna 11 000 vrywilligers.

“Ons protospanne behaal gereeld groot suksesse in die geveg teen misdaad. Net ’n paar weke gelede het ons protospan in Brits ’n groot rol gespeel om vier plaasaanvallers vas te trek,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“AfriForum is in die proses om die opleiding van sy buurtwaglede te versnel en verder uit te brei. Ons sal aanhou om ons buurtwaglede van topgehalte veiligheidsopleiding te voorsien. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens is nie in staat om sy mandaat te vervul nie en daarom is dit uiters belangrik vir gemeenskappe om opgelei te word om hulself te beveilig.

“Ons is baie trots en dankbaar vir al ons lede wat hulself vrywilliglik toewy om hul gemeenskappe te help beveilig en nooi graag enigeen wat belangstel om ’n aktiewe rol in die veiligheid van hul gemeenskap te speel, om betrokke te raak,” sluit Broodryk af.

Raak betrokke by jou plaaslike AfriForum-buurtwag by www.afriforumbuurtwag.co.za.

Soortgelyke plasings