|

Nala-munisipaliteit begin om rioolprobleem op te los ná volgehoue druk

Nadat die AfriForum-tak in Bothaville die afgelope twee jaar druk op die Nala Plaaslike Munisipaliteit uitgeoefen het oor rioolprobleme, het die munisipaliteit se kontrakteurs uiteindelik begin om dié probleme uit die weg te ruim. ’n Pyp wat riool van Brandstraat na die rioolwerke moet neem, word tans geïnstalleer wat sal verhoed dat riool in die Valsrivier beland.

Die plaaslike AfriForum-tak het die afgelope twee jaar briewe aan die munisipaliteit geskryf, verskeie ontmoetings met die betrokke amptenare gehad, die amptenare na die betrokke probleemplekke geneem, die Departement van Water en Sanitasie oor die situasie ingelig en ’n klag by die Menseregtekommissie gelê om die gruwelike invloei van riool in die Valsrivier te stop.

Die kontrakteur sou in September al begin het, maar het egter eers vandeesweek begin. Die AfriForum-tak gaan egter ook nie nou die druk verslap nie, aangesien daar ook by Kgotsong ’n invloei van riool in die rivier is wat uit die weggeruim moet word. Die munisipaliteit het reeds aangedui dat hulle ook aandag aan hierdie probleem gaan skenk.

“Dit is baie hartseer dat dit twee jaar neem om so ’n groot probleem onder die loep te neem, maar ons is dankbaar dat daar uiteindelik iets aan die riool wat in die Valsrivier vloei gedoen word. Ons weet dat daar uit verskeie oorde druk op die munisipaliteit geplaas is oor hierdie probleem en dit bewys net weer dat die gemeenskap moet saamstaan om probleme in die gemeenskap op te los,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by AfriForum betrokke te raak. SMS “Bothaville” na 45344 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings