|

AfriForum se Vanderbijlpark-tak dra by tot Laerskool Eligwa se voedselprojek

Die AfriForum-tak in Vanderbijlpark het die afgelope drie maande 20 voedselpakkies ter waarde van R250 elk aan Laerskool Eligwa se voedselprojek geskenk. Dié voedselprojek voorsien tans kospakkies aan sowat 30 huisgesinne.

Elke kospakkie bestaan uit die volgende: rys, pasta, meel, sakkies sop, twee-minuut noedels, blikkieskos, appelkooskonfyt, margarien, suiker, koffie of tee, melkpoeier, lyfseep, tandepasta, sjampoe en toiletpapier.

“Dit is vir AfriForum belangrik om op só manier ’n bydra te maak in die gemeenskap en te help waar dit nodig is. Ons doen ’n beroep op die gemeenskap om by projekte soos hierdie betrokke te raak en ’n daadwerklike verskil te maak,” sê Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand en Vaaldriehoek.

Laerskool Eligwa se voedingsprojek word onder leiding van Bianca Goss, ’n onderwyseres by dié laerskool, uitgevoer. Persone wat by hierdie projek wil betrokke raak deur voedsel skenkings of finansiële bydraes moet asseblief die skool direk kontak.

Soortgelyke plasings