|

AfriForum staan aankondiging van “konsentrasiekamp vir standbeelde” teen

AfriForum spreek sy teenkanting uit teen die aankondiging van Nathi Mthethewa, die Minister van Kuns en Kultuur, dat die regering sogenaamde temaparke gaan open om monumente, simbole en standbeelde van die verlede te huisves. Volgens die SAUK het die Minister gister tydens ’n sitting van die Nasionale Vergadering aangekondig dat “aanstootlike simbole” van die verlede na sulke ruimtes verskuif sal word om dáár bewaar te word.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is enige verskuiwing van erfenisbakens reeds ’n problematiese oplossing vir sensitiwiteite wat gemeenskappe oor die verlede het. Die verskuiwing daarvan na spesifieke ruimtes is nóg meer onaanvaarbaar, want standbeelde en monumente wat in ’n ander ruimte ten toon gestel word as waarvoor hulle ontwerp is, verloor betekenis en kan gebruik word om bepaalde gebeure, gemeenskappe en persone eensydig uit te beeld en selfs te teiken. Dit kan tot gevaarlike polarisering in die land bydra.

“Die bestuur van die park, die konteks waarbinne erfenisbakens uitgebeeld word en die onderhoud daarvan kan alles bydra om onderlinge erkenning en respek tussen gemeenskappe te vernietig. Net soos gemeenskappe vir mekaar moet ruimte skep om erkenning te gee aan hul onderskeie bydraes van die verlede, moet daar vir hul erfenisbakens ruimte geskep word,” sê Bailey.

“Wanneer simbole vir ’n bepaalde groep aanstoot gee, is die oplossing nie verskuiwing nie, want dit meen dat daar slegs ruimte vir een ideologiese narratief is. Erfenis moet so objektief en wyd moontlik in openbare ruimtes uitgebeeld word ‒ daarom moet ’n veelheid van simbole met opsies van ’n veelheid van interpretasies aan sowel inwoners van en besoekers aan die land aangebied word. Met die verskuiwing van bakens na een sentrale punt bestaan die gevaar dat slegs die bestuur van die park se interpretasie daarvan uitgebeeld gaan word en dat mense vir wie dit besondere betekenis het, dit moeilik kan besoek. Boonop gaan belastingbetalers se geld vir onnodige aanstellings en onderhoud aangewend word in ’n tyd wanneer erfenisbewaring reeds mank aan fondse gaan. Omdat bepaalde bakens uit die openbare oog verdwyn, kan dit ’n vals indruk skep dat net sekere gemeenskappe deel gehad het aan die opbou van die land, of dat die geskiedenis net uit vlekkelose slagoffers en verwerplike sondebokke bestaan.”

Bailey voeg by dat die verskuiwing van sogenaamde aanstootlike simbole na parke nie eens die bewaring en beskerming daarvan waarborg nie. “Inteendeel, wanneer vandale dit wil beskadig, maak die konsentrasie daarvan dit juis geriefliker vir hulle om dit te beskadig.”

In Erfenismaand moedig AfriForum gemeenskappe aan om hul erfenisbakens te koester en tot die onderhoud en bewusmaking oor die betekenis daarvan by te dra.

Soortgelyke plasings