|

NASIONALE GESONDHEIDSVERSEKERING IS TOTAAL ONBEKOSTIGBAAR EN IRRASIONEEL, WYS SOLIDARITEIT-NAVORSING

Deur Alet Rademeyer

Daar sal na raming ’n tekort van minstens R112 miljard op die regering se nasionale begroting wees indien die staat voortgaan met sy planne om die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in werking te stel.

Dit is net so veel as wat die jaarlikse begroting vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens beloop. En aansienlik meer as die R32 miljard se tekort wat die regering voorspel.

Solidariteit het vandag ’n omvattende verslag bekendgemaak waarin ’n koste-analise van die NGV uiteengesit word. Dit is deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) opgestel.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het op ’n mediakonferensie gesê die NGV moet om verskeie redes gestop word. Dit is onbekostigbaar, irrasioneel en het ten doel om die land se gesondheidsorgstelsel in die hande van ’n onbevoegde en korrupte regering te plaas. “Dit kan eenvoudig nie toegelaat word nie. Solidariteit het reeds kundiges op ekonomiese en mediese gebied betrek in aanloop tot die voorbereiding vir die moeder van alle hofsake teen die staat.”

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch

Hermann sê daar kan nie toegelaat word dat die ANC gesondheidsorg sentraliseer nie. “Die regering kan nie vir jou besluit waar en wanneer jy behandel mag word nie, watter medikasie vir jou voorgeskryf mag word of watter dokter jou mag behandel nie.”

Hy meen die land se private én openbare gesondheidsorg gaan in duie stort indien met die NGV voortgegaan word. Dít terwyl miljoene Suid-Afrikaners van openbare gesondheidsorg afhanklik is.

Hermann het ook verwys na die skandaal wat om dr. Zweli Mkhize, voormalige minister van gesondheid, se kop losgebars het weens beweerde korrupsie waarby hy betrek is. “Sentrale beheer is die broeiplek van korrupsie. Hierdie is maar net ’n voorsmakie van hoe die NGV geplunder sal word.”

Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die SNI, sê die regering voer aan dat hy welvaart wil versprei, maar met die NGV sal daar in werklikheid net armoede versprei word. “Die regering het eenvoudig nie die geld om die NGV te implementeer nie. En indien daar voortgegaan word met dié planne sal daar waarskynlik na nuwe belastingvoorstelle soos betaalstaatbelasting en bobelasting gekyk word wat belastingbetalers net nog verder sal belas.”

Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die SNI. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch

Connie Mulder, hoof van die SNI, het daarop gewys dat die NGV voor die COVID-pandemie reeds onbekostigbaar was. Dit gaan ná COVID nóg erger wees.

Volgens Mulder wys ander navorsing van die SNI ook daarop dat dokters en gesondheidswerkers in baie groot getalle sal emigreer indien die NGV ingestel word. “’n Mens sal baie naïef wees as jy glo dat die ANC ’n sukses van die NGV sal maak. Mense gaan net sieker wees en nog minder toegang tot enige gesondheidsorg hê. Die regering sal met die NGV dieselfde pad stap as met Eskom en ons sal ons vir beurtpille moet voorberei net soos wat daar beurtkrag is. Ons kan dit eenvoudig nie toelaat nie.”

Connie Mulder, hoof van die SNI. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch

Solidariteit doen ’n beroep op sy lede en die publiek om voorgenome litigasie teen die staat te ondersteun. Vir meer inligting kliek hier.

Soortgelyke plasings