|

WES-KAAPSE VULLISTERREINE IN GEMIDDELDE TOESTAND

AfriForum het vanjaar 153 vullisterreine landwyd geoudit as deel van die organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Slegs 15 uit 27 vullisterreine wat in die Wes-Kaap geoudit is het aan nasionale standaarde voldoen. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis 59 van 2008, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Volgens Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid- en Oos-Kaap, is die meeste vullisterreine in die Wes-Kaap in ’n gemiddelde toestand. “Die meeste vullisterreine is in ’n gemiddelde toestand en dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die feit dat daar in van die dorpe die politieke wil bestaan om die dorp goed te bestuur en by ander bloot ’n ongeërgde houding jeens doeltreffende bestuur is.”

Greyling sê voorts die algemeenste probleme wat AfriForum tydens die oudit ondervind het, is onder meer die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en die algehele wanbestuur van die terreine. Verder bly toegangsbeheer ’n kopseer en soms leef daar letterlik mense op die terreine in onmenslike toestande.

Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is ooglopend dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan.

AfriForum het in die laaste twee jaar by verskeie geleenthede met Barbara Creecy, minister van Omgewingsake, en haar span vergader. Ses terreine is geïdentifiseer wat die departement in samewerking met AfriForum gaan aanpak om dit weer op standaard te bring. AfriForum gaan ook daarop fokus om saam met munisipaliteite die probleme by sommige van die terreine in die provinsie aan te pak en om druk toe te pas om sekere terreine weer reg te ruk. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat die vullisterreine se standaard genoegsaam verbeter.

  • Lees die volledige verslag hier.

Soortgelyke plasings