|

NERSA moet ter wille van verbruiker onderneming gee oor kragtariewe, sê AfriForum

AfriForum het by monde van sy regspan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) versoek om, in belang van kragverbruikers, ’n onderneming te gee dat hy aan die onlangse hofbevel oor munisipale kragtariefverhogings gehoor sal gee totdat sy appèl teen die bevel afgehandel is. Indien NERSA nie só onderneming maak nie en voortgaan om munisipaliteite sonder kostestudies toe te laat om die nuwe hoër kragtariewe te hef, sal die burgerregteorganisasie ’n aansoek in die Hooggeregshof in Pretoria bring om NERSA te dwing om aan die oorspronklike hofbevel gehoor te gee hangende die uitkoms van sy appèlaansoek. NERSA het tot Vrydag (5 Julie) om op AfriForum se versoek te reageer.

AfriForum het op 28 Junie ’n reuseoorwinning in die hof behaal nadat daar in sy guns beslis is in die onregmatige goedkeuring van kragtariefverhogings vir die 2024/2025-boekjaar. Die hof het NERSA se besluit, om aansoeke om kragtariefverhogings sonder die vereiste kostestudies te oorweeg, as onwettig en ongeldig verklaar. NERSA is deur die hof aangesê om geen aansoeke om kragtariefverhogings te oorweeg mits die betrokke gelisensieerde elektrisiteitsverspreiders ’n kostestudie ingedien het nie. Die reguleerder het egter voortgegaan met die goedkeuring van 178 munisipaliteite se aansoeke, alhoewel nie al hierdie munisipaliteite die vereiste kostestudies ingedien het. NERSA het ook intussen ’n aansoek om verlof tot appèl teen dié bevel ingedien, wat beteken dat munisipaliteite sedert Maandag (1 Julie) die nuwe kragtariefverhogings op hul inwoners se kragverbruik hef.

Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê dié hofsaak is in die belang van verbruikers gevoer om regverdigheid en deursigtigheid in die goedkeuring van munisipale kragtariewe te bevorder. Dit is daarom in die belang van kragverbruikers dat die hofbevel, wat op ’n dringende basis aangehoor is, van krag bly totdat NERSA se appèlverrigtinge afgehandel is.

“NERSA is besig om ’n administratiewe nagmerrie te veroorsaak eerder as om sy wetlike verpligtinge na te kom en verbruikers te beskerm. Dit gaan ’n groot las op geregmatige kragverspreiders soos munisipaliteite plaas om verbruikers te vergoed vir die hoër kragtariewe wat hulle gehef het as NERSA se appèlaansoek misluk,” sê Mostert.

Soortgelyke plasings