|

Noord van die berg-tak takel slaggate so groot dit strek oor breedte van die pad

Kort voordat AfriForum sy landwye slaggatmaand afgeskop het, het die Noord van die berg-tak slaggate in Pretoria-Noord begin herstel. Sommige van dié slaggate was so groot dat dit byna oor die hele breedte van die pad gestrek het.

Die tak het op 27 Junie twee enorme slaggate in die gebied herstel. Een is aan die hoek van Wouter- en Punctatastraat, terwyl die ander een in Britsweg geleë is. Altesaam vier ton teer is gebruik om dié reuseslaggate te herstel.

“AfriForum sal voortgaan om gemeenskappe by te staan en om hoop te skep deur projekte aan te pak wat ’n daadwerklike verskil in die area maak. Hierdeur word gewone burgers in staat gestel om ’n aktiewe rol te speel om hulself en hul woonbuurte te verbeter,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Terwyl die Noord van die berg-tak slaggate herstel het, het AfriForum ook van die geleentheid gebruik gemaak om twee van sy buurtspanne – die Pretoria-aksiespan en Noord van die berg-buurtspan – die nodige opleiding te gee om self slaggate in hul onderskeie areas op te vul. Roadchem, wat spesialiseer in die herstel van paaie, het hierdie opleiding aan AfriForum se buurtspanne aangebied.

AfriForum herstel jaarliks gedurende Juliemaand van die meeste slaggate regoor die land. Besoek www.vuldiegat.co.za  om ’n donasie te maak sodat slaggate in jou area opgevul of herstel kan word of raak self betrokke deur www.wordlid.co.za te besoek.

Soortgelyke plasings