|

Parys-tak ook nou deel van gemeenskapsforum se opknapprojek

Die AfriForum-tak in Parys vorm nou deel van die pas gestigte Ngwathe Gemeenskapsforum. Dié forum het reeds verlede Saterdag weggespring in ’n poging om die dorp weer in sy volle glorie te herstel.

Werkers van die Parys-tak het met vier bossiekappers gewerskaf wat die tak verskaf het om Mooi Parys te help om die ingang van Sasolburg se kant af skoon te maak. Die Parys-tak het die besluit geneem om op slaggate te fokus en ongeveer 50 slaggate is met 60 sakkies teer opgevul. Daar is op besige strate gekonsentreer soos Eerstelaan, Schilbach- en Loopstraat. Die groot slaggat by die verkeerslig op pad na Potchefstroom is ook herstel. Die tak poog om slaggate wat nog herstelbaar is op te vul om verdere verval te probeer stuit.

Die verrigtinge is deur ds. Faan Le Roux geopen, hy is ook die voorsitter van die gemeenskapsforum. Daarna het elke instansie op hulle eie deel van die projek gefokus. Met die skoonmakery is daar ou trappe ontdek wat so erg oorgroei was dat niemand daarvan bewus was nie. Die plan is om ’n mooi tuin daar te vestig.

“Hierdie is die begin van herstel en vooruitgang vir Parys. Die feit dat verskillende instansies mekaar se hande vat vir ’n groter doel, is vir ander dorpe ’n inspirasie en dit is al manier waarop ons as inwoners sukses kan behaal. Dit is vir my lekker dat AfriForum deel daarvan is en ook hier ’n verskil kan maak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

“Die publiek is opreg dankbaar oor die werk wat gedoen is om slaggate in die dorp op te vul wat hul voertuie beskadig. Die plan is om gereeld aksies soos dié te loods en meer mense te betrek. Op hierdie manier kan die klein slaggate deur die hele dorp opgevul word voordat dit groot slaggate word. Die volgende aksie word vir Saterdag 3 Junie beplan,” sê Schalk Burger, voorsitter van die Parys-tak.

Indien jy by die AfriForum-tak betrokke wil raak, kontak Schalk Burger by 082 653 4281.

Soortgelyke plasings