|

AfriForum en Buffelsfontein sorg vir opknapping aan Menlopark-paaie

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 12 September in samewerking met Buffelsfontein Beesboerdery ’n reuse-sloot en ’n aantal slaggate in Menlopark in Pretoria laat te herstel. Dít volg nadat die eienaars van hierdie restaurant AfriForum om hulp genader het om die paaie in die nabye omgewing waarin die restaurant geleë is, op te knap.

Roadchem, ’n jarelange sakevennoot van AfriForum, het met die herstelwerk gehelp. Die sloot in 11de Straat oorkant die Greenlyn Village-sentrum is reggemaak, asook slaggate voor die Laerskool Menlopark, in Mackenziestraat en in Murraystraat. Aan die einde van die dag is ongeveer 4 ton teer gebruik om 66 m2 se slaggate te herstel.

“AfriForum wil ondernemings aanmoedig om uit te reik sodat daar meer soortgelyke projekte van stapel gestuur kan word. AfriForum wil graag met ondernemings en gemeenskapslede saamwerk om ’n beter omgewing te skep. Dit kan net die begin van ’n goeie werksverhouding tussen AfriForum en enige onderneming wees wat ’n verskil in hul area wil maak,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Raak vandag betrokke deur ’n e-pos te stuur na dewet.ungerer@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings