|

Nuuskommentaar: Buurtwagte is ’n groeiende alternatief vir selfbeveiliging

Luister hier na die artikel:

Die departement van gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap het onlangs bevestig dat buurtwaglede in dié provinsie oor die afgelope vyf jaar met 277% toegeneem het.

Ingevolge wetgewing in die Wes-Kaap het buurtwagte die opsie om hul by die plaaslike regering te registreer, maar hulle is nie verplig om dit te doen nie. Syfers toon dat buurtwagte wat hulself wel laat registreer het, se ledetal van 4 093 tot 15 432 toegeneem het. Die werklike styging in lede van die publiek wat ’n aktiewe rol in die beveiliging van hul eie gemeenskappe begin speel het, is vermoedelik baie hoër, nie net in die Wes-Kaap nie, maar landwyd.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sowat 160 plaas- en buurtwagstrukture landwyd en sowat 10 000 opgeleide vrywilligers wat ’n rol speel om hul buurte en omgewings te help beveilig.

AfriForum se veiligheidstrukture fokus nie net op patrollie ry nie. Daar is vrywilligers wat mediese opleiding ondergaan het, kommunikasiespesialiste, snuffelhondhanteerders, brandspanne en -voertuie asook reaksiespanne. Dit is almal vrywilligers wat gekies het om ’n verskil in hul gemeenskap te maak.

AfriForum se buurtwagte behaal ook gereeld groot suksesse. Onlangs is ’n voertuig wat in Pretoria gesteel is, binne ure opgespoor in KwaZulu-Natal. Dít nadat die polisie maande met die saak gesloer het. Een van AfriForum se reaksiespanne, bekend as protospanne, in Bloemfontein, is onlangs deur die Valke genader om hul by te staan tydens die inhegtenisneming van ’n verdagte wat na bewering by mensehandel betrokke is.

Protospanlede ondergaan intensiewe opleiding in taktiese vuurwapenhantering, bloedingbeheer, regsaspekte en inligting-insameling. Om in ’n posisie te wees om op so ’n klomp vrywilligers se knoppie te druk, verlig die las op die reeds erg oorlaaide polisiemag.

Die goeie samewerking tussen wetstoepassers op grondvlak en AfriForum se buurtwagte is ’n wenresep om misdaad te help bekamp en te voorkom. Nog ’n voorbeeld waar hierdie samewerking groot vrugte afgewerp het, is op grensgebiede, waar AfriForum-patrolleerders nou saam met die weermag en polisie gewerk het om smokkelaars vas te trek. Buurtwaglede het daarin geslaag om op miljoene rande se smokkelware beslag te lê en minstens twee oorgrenssindikate het tou opgegooi omdat dit nie meer vir hul finansieel die moeite werd was om AfriForum-patrolleerders die stryd aan te sê nie.

Die ander uitdaging natuurlik is dat sommige politici na bewering self munt slaan uit oorgrensmisdaad soos sigaretsmokkelary en daarom word daar ingemeng in suksesvolle pogings om dié misdaad te bekamp.

Alhoewel die stryd teen misdaad in Suid-Afrika sekerlik vir baie jare nog ’n taai een gaan wees, is dit een wat met goeie sukses gevoer kan word. Dit bly wel frustrerend om belasting te betaal wat veronderstel is om jou veiligheid en ander basiese dienste te befonds maar die realiteit is dat hierdie dienste nie gelewer word nie.

Al hoe meer mense begin besef dat hulle self sal moet moue oprol en by hul gemeenskappe betrokke sal moet raak om teen misdaad en verval te baklei. Om jou eie veiligheid te prioritiseer, is die eerste stap. En lewensbelangrik.

Soortgelyke plasings