|

Nuuskommentaar: Misdaadsyfers styg steeds terwyl SAPD 8 500 speurders kort

Die misdaadprobleem in Suid-Afrika is nog lank nie verby nie. Daar is dalk wel ’n lig (of ligte) aan die einde van ’n baie lang tonnel.

Een moontlike lig is die nuwe minister van Polisie, Senzo Mchunu, wat reeds in ’n kort tydjie in sy pos gewys het hy is sy voorganger, Bheki Cele, vêr vooruit. Dis natuurlik nie juis moeilik om Cele te oortref nie, maar wat in Mchunu se guns tel is dat hy bekend is om oop kaarte te speel. Dis juis hoekom die publiek nou weet dat daar ’n tekort aan 8 500 speurders in die land is. Mchunu het hierdie inligting in ’n antwoord in die parlement bekend gemaak.

Dit is dan ook die rede hoekom die lig nog vêr weg lyk, want sake word dikwels nie opgelos nie. Die DA het inligting met ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) bekom wat die probleem duidelik uitspel. Sedert 2018 is amper 80 000 moord- en meer as 61 000 verkragtingsake as onopgelos gesluit. Anders gestel word ongeveer twee-derdes van moorde nie opgelos nie.

Mchunu kan dus die beste bedoelings hê om misdaad by die horings te pak, maar op hierdie stadium het hy bloot nie die mannekrag tot sy beskikking nie. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is soos verskeie ander staatsdiensdepartemente oor die jare kruppel gelaat deur kaderaanstellings, korrupsie en ’n tekort aan hulpbronne. Dossiere word ook gereeld uit polisiekantore gesteel en dis gewoonlik dié vir ernstige misdade insluitend moord, poging tot moord en verkragting en dies meer wat só wegraak.

“Dit is uiters kommerwekkend dat die polisie se vermoë om misdade te ondersoek en op te los, drasties verswak het. Gemeenskappe het geen ander keuse as om ’n aktiewe rol in hul veiligheid te begin speel nie. Ons vertrou dat die nuwe minister van Polisie die uitdagings in die SAPD ernstig sal opneem, maar ongelukkig het die verval in die SAPD al so ver uitgekring dat dit jare sal neem om hierdie diens reg te ruk,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“In hierdie stadium is die enigste werkbare oplossing dat die SAPD hande moet vat met goed georganiseerde en opgeleide gemeenskapstrukture – soos AfriForum-buurtwagte en die privaatsekerheidsbedryf – en saamwerk om misdaad te bekamp. Gemeenskapslede het gereeld toegang tot inligting wat die SAPD nie noodwendig het nie en nouer samewerking kan beslis help om sake op te los en die skuldiges vas te trek,” sluit Broodryk af.

Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid

Gemeenskappe is dus dalk ’n tweede lig aan die einde van die tonnel en hopelik kan samewerking tussen die SAPD en gemeenskappe ook die tonnel korter maak. Hoe dit ook al sy, daar is groot verwagting vir hoe skoon die nuwe minister se besem kan vee en hopelik is daar binnekort tekens dat dit wel die geval is.

Soortgelyke plasings