|

Nuuskommentaar: Outa het mes in vir Blade

President Cyril Ramaphosa het by ’n onlangse ANC-saamtrek in Nelspruit gesê die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA)-toelae en lenings deur die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) kan verdwyn mits die ANC nie later vanjaar herverkies word nie. Dit is moontlik dat ’n regering waarin die ANC nie die meerderheid het nie wel strenger gaan wees met SASSA-toelaes en NSFAS-lenings. As ’n mens egter na die onlangse aantygings van korrupsie met NSFAS teen dr. Blade Nzimande, minister van Hoër onderwys, Wetenskap en Innovasie, kyk blyk dit of NSFAS in elk geval gedoem is onder die ANC.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het bekend gemaak dat hulle stemopnames bekom het waar Ernest Khosa, raadvoorsitter van NSFAS, en ’n verteenwoordiger van ’n diensverskaffer na bewering bespreek hoe miljoene rande aan Khosa en Nzimande, asook die SAKP betaal is. Outa het dié twee se koppe geëis, maar tot op hede is Ramaphosa tjoepstil. Nzimande sê hy is onskuldig aan korrupsie en het reeds gesê hy sal nie bedank weens ’n veldtog wat sy goeie naam en werk beswadder nie.

Waar ’n rokie is, moet ’n vuurtjie brand en selfs al is Nzimande soos hy sê onskuldig aan korrupsie, is NFSAS al lankal op die afgrond van bankrotskap. Pres. Ramaphosa het in 2022 die spesiale ondersoekeenheid versoek om ondersoek in te stel na onder meer bewerings van korrupsie, wanadministrasie, onwettige en onregmatige besteding- en verkrygingspraktyke, onwettige en onregmatige optrede deur werknemers en amptenare, asook doelbewuste nalatige verlies van openbare fondse by NSFAS.

NSFAS is ook al jare lank in die spervuur vir die manier waarop hulle die beurse toeken, asook omdat hulle nie teen studente optree wat op hul aansoekvorms jok oor hul finansiële omstandighede nie of nie hulle lenings terugbetaal nie. Die uiteinde van die saak is net nog ’n staatsinstelling wat soos onder meer Eskom, die poskantoor en Denel in die grond in bestuur is.

Intussen is aangekondig dat NSFAS beoog om voor 15 Januarie 20 000 uitstaande uitbetalings aan studente te maak. Gemeet aan vorige jare toe verskeie probleme tot protesaksies deur studente gelei het, sal daar moontlik weer baie ongelukkige studente wees wat nie die nodige betalings ontvang nie en sodoende nie betyds kan registreer by die instelling waar hulle studeer nie.

Nzimande kan seker nie aanspreeklik gehou word vir alles wat verkeerd is met NSFAS nie. Dit sal wees soos om die kaptein van die Titanic te vra wat op enige tydstip in die enjinkamer van die skip aan die gang is. Hy ís egter tog die kaptein en as die skip sink, gaan vingers na hom gewys word.

In alle waarskynlikheid sal Ramaphosa ’n komitee op die been bring om ondersoek in te stel na die bewerings oor Nzimande en Khosa wat soos gewoonlik tot niks sal lei. Dit terwyl hy kiesers met mooipraatjies en beloftes van gratis mediese sorg, plek in goeie skole en ’n einde aan beurtkrag paai.

Soortgelyke plasings