|

Vermeende vakansie-swendelaar Francois Swart in hegtenis geneem

Die lang arm van die gereg het uiteindelik die reisagentskapbaas Francois Swart ingehaal, maande nadat strafregtelike klagtes teen hom aanhangig gemaak is. Swart het op 28 Desember vir die eerste keer in die Modimolle-landdroshof verskyn en borgtog is toegestaan. Voorwaardes vir sy vrylating op borg is egter nog nie vasgestel nie, maar AfriForum se privaatvervolgingseenheid is tevrede dat die regsproses aan die gang is om Swart aanspreeklik te hou vir die bewerings teen hom.

Swart is die besturende direkteur van die reisagentskap Priority Escapes en het na bewering baie voornemende vakansiegangers uit honderdduisende rande geswendel. Die eenheid verteenwoordig twee klaers wat in Augustus verlede jaar ’n strafregtelike klag teen Swart by die Modimolle-polisiestasie ingedien het. Die lasbrief is vroeg in Desember uitgereik, ná die privaatvervolgingseenheid ingegryp het.

Volgens adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is hierdie saak eenvoudig. Die klaers het die totale bedrag aan die verdagte oorbetaal om hul vakansie te reël en hy het dokumente aan hulle gestuur om te bevestig dat die nodige vlieg- en verblyfreëlings getref is. Dié dokumente was egter vervals.

Pamela-Anne Dolan en Bugs van Heerden sê hulle is bemoedig dat die polisie op hul klagte opgetree het. Hulle het wel aanvaar dat hulle nie die R130 000, wat hulle aan Swart betaal het, sal terugkry nie. “Ons doen dit nie vir onsself nie, maar vir al die mense wat ook geld verloor het. Hierdie is ’n ongekompliseerde saak – ons het reisdokumente ontvang om te sê ons vakansie is bespreek terwyl dit eintlik nooit bespreek is nie,” sê Dolan.

Die egpaar het die eenheid genader toe hulle nie die ondersoekbeampte se besonderhede gekry het nie en ook nie deur die ondersoekbeampte genader is oor dié saak nie. Die eenheid het aan die stasiebevelvoerder geskryf en kommer uitgespreek dat ’n eenvoudige saak van bedrog glo na die Valke verwys is om ondersoek te word.

Ná Swart se verskyning in die hof en ’n skynbare hernude poging van die SAPD om die saak voort te sit, sal die eenheid voortgaan om die verwikkelinge in die saak noukeurig dop te hou en ondersteuning bied aan die SAPD en Nasionale Vervolgingsgesag indien dit nodig is.

Swart sal weer op 23 Februarie in die hof verskyn.

Soortgelyke plasings