|

Nuuskommentaar: Stappe gedoen om Tshwane-metropolisielede wat mag misbruik te stuit

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het hierdie week klaers in die landdroshof in Pretoria ondersteun toe drie Tshwane-metropolisielede vir verskeie klagtes insluitend ontvoering, intimidasie en roof in die hof verskyn het. Optrede teen lede wat hulle mag misbruik word al lankal geëis, maar slagoffers wat bereid is om na vore te kom om teen hierdie lede te getuig is dikwels ’n uitdaging.

“Die publiek wil die strate weer terugneem van hierdie rampokkers, maar dit beteken ons kan nie stille slagoffers wees nie,” het adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, buite die hof gesê.

Mense moet na vore kom en sake maak. Die regstelsel kan frustrerend wees, maar dis hoekom ons hier is om te help.

Basil Nkhwashu, die waarnemende hoof van die Tshwane-metropolisie, het die publiek onlangs ingelig dat hulle metropolisielede se wangedrag mag afneem. As ’n mens in ag neem hoe ernstig die klagtes teen die drie lede wat in die hof verskyn het is, lyk dit of dit klaarblyklik nodig is. Dié saak is juis uitgestel om die beskuldigdes se regspan ’n geleentheid te gee om na beeldmateriaal van ’n voorval waar hulle blykbaar ’n motoris afgepers en beroof het, te bekyk.

Grandi Theunissen, Tshwane-burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, het by die drie lede se hofverskyning gesê metropolisielede wat die wet oortree, sal vervolg word en daar sal geen genade getoon word as hulle skuldig bevind word nie. Of dié drie skuldig is, moet natuurlik nog deur die hof bepaal word, maar hul optrede by ’n vorige verskyning buite die hof toe hulle Barry Bateman, woordvoerder AfriForum se privaatvervolgingseenheid, byna te lyf gegaan het toe hy ’n video van hulle wou neem, getuig reeds van hul wangedrag.

Dit klink dus of die dae van Tshwane-metropolisielede wat hul mag misbruik moontlik getel is. Tog leef onskuldige burgers dikwels steeds in vrees vir die dag wat hulle afgetrek word. Die vraag is hoe om op te tree in ’n geval waar ’n mens wel afgetrek word? Theunissen het ’n paar wenke gegee.

As jy afgetrek word, wees beleefd met die polisie en gee jou samewerking.

“Die beamptes moet hulself identifiseer en motoriste is geregtig om vir hul aanstellingsertifikaat te vra. As hulle jou byvoorbeeld vra of jy gedrink het, antwoord eerlik. Indien die beamptes ’n alkoholvlaktoets wil doen, kan ’n mens vra hoekom hulle vermoed dis nodig. Die motoris kan en moet eintlik aandring dat ’n bloedtoets uitgevoer word, want dis die enigste toets wat in die hof geldig is. Indien dit nodig is, kan jy ook ’n video of foto van jou interaksie met die beamptes neem.”

Nel sê motoriste moet die verkeerswette gehoorsaam wat sal beteken dat metropolisielede wat hulself aan bo vermelde optrede skuldig maak nie ammunisie het om die lewe vir ’n mens ongemaklik te maak nie. Hy sê ook dat daar nog baie goeie metropolisielede is en dat hulle gehelp moet word om arrestasies uit te voer waar motoriste hulle byvoorbeeld probeer omkoop.

Uit bogenoemde lyk dit of die positiewe stappe wat die Tshwane Metro gedoen het om iets daadwerkliks aan die probleem van metropolisielede wat soos rampokkers optree te doen, nog nie elders toegepas word nie.

Soortgelyke plasings