|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Keppies Tutorsentrum met #DieValFilm

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 20 Julie by die Keppies Tutorsentrum in Pretoria-Noord besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Baie dankie vir jul besoek by Keppies Tutorsentrum. Dié hoërskoolleerders het die praatjie baie geniet. Dit is uiters belangrik om ons leerders bewus te maak daarvan dat hulle vir hulself mag opstaan en die sukses behaal wat hulle toekom! Hulle het die film ook vreeslik geniet en kon met die karakters vereenselwig,” sê Ina de Jager, eienaar en opvoeder by Keppies Tutorsentrum.

Die leerders het ook AfriForumTV se film Die val gekyk. Dié film skep bewusmaking oor boeliegedrag en selfdood en kan gratis by www.afriforumtv.co.za gestroom word.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings