AfriForum-tak in Wolmaransstad en munisipaliteit werk saam om dorp te verbeter

Die AfriForum-tak in Wolmaransstad het op 11 Februarie 2020 in samewerking met die Maquassi Hills Plaaslike Munisipaliteit ’n aksieplan vir die res van Februarie en Maart saamgestel om die algehele toestand van die dorp te verbeter.

Dít volg nadat die taklede en Victor Nikodemus, direkteur van gemeenskapsdienste, in Januarie op Nikodemus se versoek vergader het. Hy het die tak tydens dié vergadering om samewerking genader, aangesien die tak reeds sekere take in die dorp verrig. Die tak snoei reeds takke wat uitsig belemmer, maak die vlei skoon en sny ook gras.

Die aksieplan wat saamgestel is, behels onder meer dat:

  • Slaggate in die dorp moet geprioritiseer word. Die munisipaliteit het teer aangekoop en die AfriForum-tak sal hulp verleen met die opvul van slaggate. Daar sal vir eers op die besigste strate gefokus word.
  • Stormwaterpype moet oopgemaak word, anders is dit sinneloos om die paaie te herstel. Kaarte van waar die pype geleë is, sal bestudeer word alvorens daar tot aksie oorgegaan word.
  • AfriForum sal ’n persoon beskikbaar stel om die situasie rakende straatligte in die dorp te beoordeel, sodat probleme geïdentifiseer en opgelos word.
  • Bome sal ook deurlopend gesnoei en die gras gesny word.

Christo Smit, voorsitter van AfriForum se Wolmaransstad-tak, bedank die munisipaliteit vir hul bereidheid tot samewerking. “Ons sal ’n werksprogram aan die publiek beskikbaar stel en ons vra die publiek om hulp te verleen waar dit enigsins vir hulle moontlik is. Saam kan ons van Wolmaransstad weer ’n spogdorp maak,” sê Smit.

“Dit is ’n baie goeie teken as die munisipaliteit na ander organisasies uitreik. Die ideaal is altyd dat die munisipaliteit sy pligte sal nakom. As AfriForum hulle egter daarin kan bystaan en help, is dit ’n wen-wen-situasie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Soortgelyke plasings