|

Nuuskommentaar: Uitspraak in Malema-aanrandingsaak dui op verval van die strafregstelsel

Luister hier na die artikel:

EFF-leier Julius Malema en EFF-LP Mbuyiseni Ndlozi is onlangs op ’n aanklag van aanranding op die SAPD-kolonel Johannes Venter vrygespreek.

Dié voorval waarvoor Malema en Ndlozi vervolg is, het in 2018 by Winnie Mandela se begrafnis plaasgevind. Verdoemende en skokkende beeldmateriaal van die gebeure op die dag wys hoe Malema en Ndlozi uit hul voertuig klim en herhaaldelik vir Venter stamp. Ten spyte van hierdie prima facie-bewyse van aanranding, het die landdros in sy uitspraak beslis dat Malema en Ndlozi in putatiewe noodweer opgetree het. Om tot hierdie verstommende beslissing te kom, het die landdros ’n  subjektiewe toets toegepas en bevind dat die staat nie daarin geslaag het om Malema en Ndlozi se verweer te weerlê dat hulle onder die indruk was dat hulle toegang tot die begraafplaas geweier is nie.  Daarom, volgens die landdros, het Venter Malema en Ndlozi se konstitusionele reg tot vryheid van beweging en menswaardigheid aangetas toe hy hulle by die ingang van die begraafplaas gestop het. Die landdros het egter wel bevind dat die aanranding onregmatig was en geen bevinding gemaak dat Venter op enige stadium op die aanval op hom gereageer het nie.

Die vervolging van Malema en Ndlozi in die saak is vanuit die staanspoor deur vreemde gebeure geteister. Aanvanklik was die nasionale vervolgingsgesag (NVG) huiwerig om die individue te vervolg, totdat AfriForum se privaatvervolgingseenheid ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag by die saak betrokke geraak het. Die dossier het verdwyn en die eenheid moes ’n afskrif van die dossier aan die NVG verskaf.  Venter het ook gedurende die verhoor getuig dat hy verskeie addisionele verklarings moes aflê op versoek van die NVG om spesifieke vrae te beantwoord. Na AfriForum se ingryping, het die NVG toe wel aangekondig dat die betrokke individue vervolg gaan word.

Nadat vervolgingstappe aangekondig is, is die verhoor verskeie kere vertraag met versoeke van gesondheidsbekommernisse wat die verdediging weens die Covid-19-pandemie geopper het. Die klagstaat het ook verdwyn met die oorspronklike bewysstukke. Hierdie vertragings het ʼn beduidende rol gespeel dat staat se getuies, volgens die hof, weens die lang tydsverloop nie ’n konsekwente herinnering van die gebeure van die dag gehad het nie. Daarbenewens, het die staat se aansoek om uitstel nie geslaag om ’n essensiële getuie te roep nie. Ondanks die feit dat mediese sertifikate ingehandig is waarvolgens ʼn dokter die getuie afgeboek het weens mediese redes.

Verder is dit uiters kommerwekkend dat die EFF tydens die verhoor toegelaat is om reusepolitieke saamtrekke op die hofperseel te hou, wat as ’n duidelike intimidasietaktiek geïnterpreteer kan word. Die aangrensende hof is ook aan hulle beskikbaar gestel om middagetes te geniet wat deur spyseniers verskaf is.

Om konteks te gee van die meriete van die saak, het Venter in sy getuienis verduidelik dat hy aan Malema en Ndlozi gesê het dat hulle te voet die begraafplaas kon binnegaan, maar dat hul voertuig nie as deel van die konvooi goedgekeur was nie. Malema het toe aan hom gesê dat hy wel sou inry en dat geen wit man hom sou stop nie. Volgens Venter was hy besig om met die begraafplaas se beheerkamer te kommunikeer om toestemming te kry vir die voertuig om ingelaat te word, toe Malema en Ndlozi uit die voertuig gespring het en hom begin stamp het.

Toe Malema geroep is om te getuig, het hy geen berou vir sy optrede getoon nie en onder eed gesê dat hy vervolg word weens “wit supremasisme”. Hy het ook aangevoer dat polisiemanne “gereeld gestamp word” en as mense hiervoor aangekla word die hof die hele dag besig sal wees met soortgelyke sake.

Ondanks hierdie skokkende uitlatings het die hof bevind dat Malema en Ndlozi se getuienis meer konsekwent as dié van die staat se getuies was.

ʼn Land waar prominente parlementslede en ’n lid van die Regterlike Dienskommissie toegelaat word om ’n senior polisieoffisier in uniform aan te val terwyl hy BBP- beskermingsdienste verrig, beskik nie oor ’n vertrouenswaardige strafregstelsel nie.

Daarom as ’n mens slegs een les uit hierdie uitspraak kan leer, is dit dat ’n mens hoegenaamd nie meer na die regering en regstelsel as die landsredders moet kyk nie. Ondervindings soos hierdie ondersteun ook ’n debat vir die uitbreiding van die konsep van privaat vervolging om ’n proses daar te stel waar klaers bekwame aanklaers van hulle keuse kan aanstel om vervolgings te behartig. Teen hierdie agtergrond moet die burgerlike samelewing en ander konstruktiewe rolspelers koördineer om hulself “staatsbestand” te maak deur ’n benadering van selfdoen. Dit is die enigste weg na ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms.

Soortgelyke plasings