|

Nuuskommentaar: Verwag heelwat kinkels voor stemdag

Vanjaar se nasionale verkiesing gaan heel moontlik een van die interessantste verkiesings tot nog toe wees en heelwat kenners vermoed dat daar nog ’n hele paar kinkels (of eerder slange in die gras) gaan wees in aanloop tot stemdag.

Nie net het ons die afgelope paar maande gesien hoe oudpres. Jacob Zuma sy terugkeer tot die politiek maak nie, maar daar was ook al ’n hofsaak of twee oor die komende verkiesing en die politieke partye wat daaraan gaan deelneem.

Die omstrede uMkhonto weSizwe (MK)-party van Zuma is skaars ’n paar maande oud en vier lede, waaronder een van die stigterslede, is reeds geskors. Dié party moes ook al hul handelsnaam en logo in die hof verdedig nadat die ANC aangevoer het dat die handelsnaamregte aan hulle behoort – ’n saak wat die ANC met koste verloor het.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het ook bloedneus in die kieshof gekry toe dié kommissie hom tot die hof gewend het om Zuma kragtens art. 47(1)e van die Grondwet as ’n kandidaat in die verkiesing te diskwalifiseer. Dié artikel van die Grondwet bepaal dat iemand nie ’n kandidaat van die Nasionale Vergadering mag wees nie as hy of sy die afgelope vyf jaar gevonnis is tot tronkstraf van meer as 12 maande sonder die opsie van ’n boete.

Die kieshof se uitspraak het talle grondwetkenners laat kopkrap aangesien dié hof Zuma se tronkstraf van 15 maande sonder die keuse van ’n boete nie as ’n vonnis beskou nie omdat hy nie die reg tot appèl gehad het nie. Dit laat ’n mens dink dat die howe wat die hekwagters van geregtigheid is, gemaklik is daarmee dat iemand wat die wet oortree het en eintlik ’n bespotting van die Grondwet gemaak het, ’n kans staan om weer die land te regeer.

Dit het dan ook onlangs aan die lig gekom dat die MK-party hom glo skuldig gemaak het aan bedrog deur handtekeninge te vervals om vir die verkiesing te registreer. Lennox Ntsodo, gewese senior amptenaar van die MK-party, het ’n verklaring hieroor by die polisie afgelê en volgens hom het hy ’n span aangestel wat mense se inligting van databasisse afgelaai en gebruik het om by die minstens 15 000 handtekeninge wat nodig is, uit te kom. Rapport, wat Ntsodo se bewyse onder oë gehad het, het van die mense op die vorms gebel en byna almal het ontken dat hulle ooit ’n MK-lys geteken het. Die koerant het ook ander inligting nagegaan en agtergekom dat sommige selfoonnommers op die lyste gedupliseer is of dat syfers ontbreek.

’n Mens kan, nadat hierdie aan die lig gekom het, diep bekommerd wees oor die deursigtigheid en akkuraatheid van die OVK en sy prosesse by die stembus.

As ’n party soos die MK in só ’n kort tydjie reeds in soveel omstredenheid gedompel is, sidder ’n mens om te dink waartoe hulle alles in staat kan wees indien hulle ’n groter sê in die land sou kry. Indien Zuma weer ’n kans kry om te regeer, kan daar met sekerheid gesê word dat Suid-Afrika dan tot in die grond in regeer gaan word.

Soortgelyke plasings