|

Nuuskommentaar: Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys gaan onderwyskrisis net vererger

Suid-Afrikaanse onderwys is al jare lank in ’n krisis.

In 2019 het die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) gewaarsku dat die lae gehalte onderrig wat die meerderheid kinders hier kry, bydra tot die land se langtermyn lae ekonomiese groei.

In die IMF se verslag is beklemtoon dat befondsing nie vir die situasie blameer kan word nie, aangesien Suid-Afrika gemiddeld meer as 6% van sy bruto binnelandse produk (BBP) aan onderwys bestee. ’n Beduidende aantal Afrikalande suid van die Sahara spandeer veel minder per leerder, maar behaal daarenteen heelwat beter opvoedkundige resultate.

Op die ranglyste van internasionale toetse oor die gehalte van onderrig, byvoorbeeld die Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS), Trends in International Mathematics and Science Study (TIMSS) en Teaching and Learning International Survey (TALIS), eindig Suid-Afrika gereeld in die laagste posisies betreffende kwessies soos lees met begrip, wiskundige vaardigheid, ure gehalte-onderrig per dag aangebied en die fisiese veiligheid van kinders by skole.

Dat dringende maatreëls nodig is om die situasie te verbeter, is duidelik, maar die beplande skolewetgewing soos vervat in die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys gaan nie die probleme oplos nie. Inteendeel, dit gaan die krisis juis vererger.

In die eerste plek is vele van die voorgestelde nuwe maatreëls daarop gerig om mag in die hande van die staat te sentraliseer. Die departement vir Basiese Onderwys het in die verlede self erken dat 80% van die skole in die land wanfunksioneel is. Ondersoeke dui aan dat die mislukkende skole deur sowat 80% van die land se kinders bygewoon word. Skynbaar gebruik die departement nou nie meer die term “wanfunksioneel” nie, omdat dit “destruktief en demoraliserend” is. Ongelukkig kan jy dit noem wat jy wil, die probleem bly dieselfde.

Die redes vir die probleem sluit kwessies in wat die IMF-verslag duidelik identifiseer, soos die gebrek aan moedertaalonderrig. Die wysigingswetsontwerp wil juis besluite oor die taalbeleid van skole aan departementele amptenare oorlaat, en soos ons weet, neem dit nie die gemeenskap se wense in ag nie, maar probeer telkens Engelse onderrig afdwing. Neem nou maar hofsake in die verlede met betrekking tot Laerskool Mikro, Laerskool Vela Langa, Hoërskool Overvaal, Hoërskool Fochville en Hoërskool Ermelo, om net enkele te noem. Boonop is daar al meer as ’n dekade lank groot aankondigings dat onderrig in inheemse tale uitgebrei gaan word, maar op grondvlak gebeur min.

Dan is daar die kwessie van onderrig. In die wanfunksionele skole is bevind dat sowat 20% van die onderwysers op Maandae en Vrydae afwesig is, en ’n derde van hulle nie op die laaste werksdag van die maand by die skool opdaag nie. Hulle vergoeding is egter presies dieselfde as dié van hulle pligsgetroue kollegas. Gemiddeld ontvang kinders in landelike skole net 3.5 ure per dag onderrig – hoe kan dan van hulle verwag word om internasionaal kompeterend te presteer of indiensneembaar te wees as hulle die skool verlaat? Onderwysers is aan die dissiplinêre kodes van die departement onderhewig, maar deurgaans is die terugvoer dat daar nie aanspreeklikheid is nie.

Die Volmink-verslag van 2016 is ’n bewys hiervan. Dié verslag handel oor die verlammende invloed van die vakbond, die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (SADOU) op die stelsel, met onder meer die verkoop van onderwysposte en geweldpleging in skole. Dit het 84 oortreders by name geïdentifiseer, maar met die laaste navraag hieroor het dit geblyk dat daar nog nie teen hulle óf die vakbond opgetree is nie. In teendeel, in 2020 het pres. Cyril Ramaphosa SADOU geloof vir die rol wat dit speel.

Niks in die huidige wetsontwerp verhinder die vervolging van sodanige oortreders nie en niks in die nuwe wetgewing gaan die toestand verbeter nie.

Hierby kom nog kwessies soos die gebrekkige opleiding van onderwysers, kurrikulumprobleme, korrupsie in die provinsiale onderwysdepartemente en die gebrek aan voldoende skole wat gebou word. Ál hierdie probleme is aan die swak bestuur van die departement te wyte en nie aan gebrekkige wetgewing nie.

Die wysigingswetsontwerp is ’n lomp poging van die magsbehepte ANC-regering om hulle versmorende houvas op die onderwysstelsel uit te brei en in die proses ook ons taal, kinders en skole se toekoms te probeer kelder. Dit is waarom die Afrikaanse gemeenskap moet saamstaan en alle moontlike aksies teen die wetsontwerp steun.

Voeg jou stem daarteen hier by.

Soortgelyke plasings