|

AfriForum gee regspan opdrag om teen Eskom op te tree

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy regspan opdrag gegee om teen Eskom op te tree omdat die kragreus beplan om die elektrisiteitstoevoer na verskeie dorpe wat deel uitmaak van die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit vanaf 14 Augustus af te sny.

Die dorpe wat geraak sal word is onder meer Klerksdorp, Orkney, Stilfontein, Hartbeesfontein en Jouberton.

Eskom het voorheen op AfriForum se skrywe gereageer en aangevoer dat hulle die reg voorbehou om elektrisiteit te sny. Eskom het ook in die skrywe erken die krisis kan toegeskryf word aan die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit se wanbestuur van fondse. Die munisipaliteit skuld Eskom ongeveer R440 miljoen nadat hulle reeds R100 miljoen betaal het.

Volgens AfriForum is dit onregverdig dat Eskom die gemeenskap straf terwyl die krisis duidelik veroorsaak is weens die onbekwame bestuur van die munisipaliteit.

“Dit is onregverdig om inwoners wat getrou hul elektrisiteitsrekening aan die munisipaliteit betaal het, te straf vir geld wat weens wanbesteding nie deur die munisipaliteit aan Eskom oorbetaal is nie. Die munisipaliteit bewys voortdurend dat hulle onbekwaam is om finansiële bronne te bestuur en om kritiese infrastruktuur te onderhou. Dit is ’n kwessie wat tussen Eskom en die munisipaliteit besleg moet word en betalende verbruikers behoort nie daaronder te ly nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

AfriForum wil graag ’n groter verskil in die gemeenskap maak en moedig inwoners aan om betrokke te raak. Word deel van die oplossing: SMS “Matlosana” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings