Nuwe taalbeleid van SAIGR ondeurdag en diskriminerend


Die burgerregte-organisasie AfriForum ontvang tans heelwat klagtes oor die nuwe taalbeleid van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR), wat pas per nuusbrief aan dié instituut se lede bekend gemaak is. In die nuusbrief word weersprekend verklaar dat die Suid-Afrikaanse Grondwet veeltaligheid ondersteun en dit dus “onbillik en nadelig” sal wees indien die SAIGR slegs een addisionele taal, naamlik Afrikaans, vir eksamendoeleindes gebruik. Alle eksamens sal voortaan net in Engels plaasvind.

Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, is dit belaglik om te argumenteer dat die wegneem van taalregte en die instelling van eentaligheid eintlik meertaligheid bevorder. “Die Grondwet stel dit duidelik dat die taalaanbod in die land uitgebrei moet word sodat alle amptelike tale mettertyd gelyke status kan bereik, en nie dat slegs een taal, en boonop ’n koloniale taal, gebruik mag word sodat die inheemse amptelike tale geleidelik kan verswak en dan ’n gelyke dood kan sterf nie,” voeg sy by.

Volgens Bailey is instellings soos die SAIGR onkundig oor taalregte en probeer hulle polities korrek voorkom deur Afrikaans uit te faseer. In die proses ontduik hulle enige verpligting om die ander nege inheemse tale te help ontwikkel en ontneem hulle die Afrikaanse gemeenskap van leer-, werk- en diensgeleenthede. Daar is ook geen kans dat meer tale in die land dan tot Afrikaans se status sal ontwikkel nie.

“AfriForum gebruik deurgaans die dienste van Afrikaanssprekende rekenmeesters. Dit is vir ons voordelig om rekenkundige inligting in ons eie taal te kry. Ons gun ook dieselfde diens aan alle ander Suid-Afrikaners. As die SAIGR ernstig oor die Grondwet, veeltaligheid, menseregte en dienslewering is, sal hulle alles moontlik doen om hul eksamenaanbod uit te brei om meer Suid-Afrikaanse tale in te sluit. Universiteite doen moeite om Suid-Afrikaanse tale te ontwikkel en die gebruik daarvan in alle dissiplines aan te moedig. Instellings soos die SAIGR behoort sulke pogings daadwerklik te steun en die taalaanbod wat reeds bestaan, te beskerm as ’n bate vir hul lede en die publiek wat van hul lede se dienste gebruik moet maak.”

AfriForum sal voorstelle vir wyses waarop die SAIGR meertaligheid werklik kan bevorder aan die bestuur stuur. Lede van die SAIGR word ook aangemoedig om hul behoefte aan Afrikaanse eksaminering onder die instituut se aandag te bring.

Soortgelyke plasings