|

Nuwe vennootskap sal miljoene rande vir Afrikaanse onderwys ontsluit

AfriForum-lede wat in die toekoms korttermynversekering deur Virseker uitneem, sal bydra om miljoene rande vir Afrikaanse onderwys te ontsluit.

Die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum deel is, en Virseker het vandag ’n vennootskap gesluit, wat ’n nuwe fase vir Virseker beteken.

Virseker is in 2010 as ’n Afrikaanse korttermynversekeringsproduk begin om die Afrikaanse gemeenskap te ondersteun.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dit is vir die burgerregte-organisasie ’n voorreg om deel van hierdie groter plan te kan wees. “Afrikaans is onder groot druk en dit is belangrik dat daar volhoubare planne moet wees om te verseker dat die taal selfstandig kan oorleef.”

Kriel meen lede wat ’n polis by Virseker uitneem, is verseker dat hulle ’n kwaliteitproduk kry en daardeur help hulle ook dat Afrikaans wen.

Dirk Hermann, voorsitter van die Virseker Trust, sê deur Virseker na ’n nuwe vlak te neem, sal groot uitbreidings vir Akademia, die privaat Afrikaanse universiteit, moontlik gemaak word. Akademia sal volgende jaar aansoek doen om 30 nuwe grade te akkrediteer. Die langtermynplan is dat Akademia ’n volwaardige residensiële universiteit met koshuise sal wees.

Sedert Virseker in 2010 begin is, is R32 miljoen aan Afrikaanse onderwysprojekte uitbetaal en in die komende jaar sal dit ’n verdere R12 miljoen wees.

Virseker-polishouers verseker nie net motors en huisinhoud nie, maar belê ook in ander Afrikaanse TV, musiek en advertensies. “Afrikaanse leefruimtes word geskep waarbinne die taal kan floreer,” sê Hermann.

Henk Schalekamp, voorsitter van die Solidariteit Beleggingsmaatskappy, sê Virseker is in die South African Customer Satisfaction Survey aangewys as die korttermynversekeringsproduk waarmee kliënte die meeste tevrede is.

Schalekamp meen dit kan toegeskryf word aan die feit dat Virseker sy kliënte ’n kompeterende voordeel gee. Dit ding met ander korttermynversekeringsprodukte mee, lewer uitnemende diens aan die Afrikaanse mark en dra by tot die bevordering van die Afrikaanse onderwyssaak.

Sowat 20 000 polishouers is nodig sodat die Solidariteit Beweging aandeelhouding in Virseker kan kry. Die langtermyn doel is dat Virseker as ’n eie versekeringsmaatskappy sal registreer waarin die Solidariteit Beweging ook aandeelhouers sal wees.

Soortgelyke plasings