AfriForum pak Vaalrivier-ramp met aktivisme, strafregtelike klagtes en rehabilitasie


Die besoedeling van die Vaalrivier het die afgelope paar maande in ’n ramp ontaard. AfriForum maak daarom vandag bekend hoe dié organisasie beoog om die rivier en die omgewing te rehabiliteer.
Die veldtog is van stapel gestuur in Parys, waar die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit jurisdiksie het, aangesien die ergste besoedeling hier sigbaar is. Onbehandelde riool word hier in die rivier gestort, wat tot talle vissterftes gelei het. Volgens Marcus Pawson, AfriForum se hoof van omgewingsake, behels die veldtog ’n innoverende inslag wat die huidige omgewingsramp gaan help beredder deur aktiewe (goeie) bakterieë in die water vry te laat om die riool af te breek en suurstof in die rivier terug te sit. Dit sal hopelik verhoed dat verdere fauna en flora vrek.
AfriForum wou ’n memorandum oor die munisipaliteit se swak water- en rioolbestuurspraktyke aan Bruce Kannemeyer, die munisipale bestuurder, oorhandig, maar hy het geweier om dit te aanvaar.

“Saam met die memorandum wou ons ook dooie visse, riool- en drinkwatermonsters (wat nie aan die nasionale standaarde voldoen nie) oorhandig. E. coli-vlakke in die rivierwater is hoër as wat ’n geakkrediteerde laboratorium kan meet. Dit dui daarop dat die water wat uit Parys se rioolwerke vloei nie behoorlik – of enigsins – gesuiwer word nie. AfriForum het ook ’n strafregtelike klagte in hierdie verband teen Kannemeyer ingedien,” sê Pawson.

Volgens Stephen Nel, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die sentraalstreek, gaan Parys voortdurend onder waterprobleme gebuk.

“Die inwoners van Parys sukkel gereeld met onvoldoende watertoevoer en kraanwater wat stink en waarvan die kleur van bruin tot groen wissel. Intussen ly talle besighede langs die rivier ook groot verliese weens die besoedeling – sonder dat die munisipaliteit enige daadwerklike plan van aksie aan inwoners kommunikeer. AfriForum se Parys-tak het vroeër vanjaar die munisipaliteit weens hul kommer oor die besoedeling in die Vaalrivier genader. Ten spyte van beloftes dat hulle daaraan sal aandag gee, het die munisipaliteit niks gedoen om die situasie te beredder nie.”
“Die besoedeling in die Vaalrivier is strafregtelik strafbaar en dit gebeur landswyd in ander riviere ook. AfriForum sal binnekort sy blou-en-groendruppelverslag vir 2018 bekend stel wat vir die sesde agtereenvolgende jaar toon dat byna 80% van Suid-Afrika se rioolaanlegte wanfunksioneel is of glad nie funksioneer nie. Die regering stort daagliks omtrent 5 000 megaliter gedeeltelik behandelde of onbehandelde riool in riviere,” sê Pawson.

Alle AfriForum-takke langs die Vaalrivier gaan soortgelyke aksies in hul onderskeie dorpe aanpak. Mediumtermynaksies sal fokus op die herstel van rioolpompe en -aanlegte, wat die grootste bron van besoedeling is.

“AfriForum se langtermyndoelwitte met hierdie projek is die skep van bekostigbare gemeenskapinfrastruktuur met die nuutste tegnologie sodat gemeenskappe self hul water kan suiwer sonder om op die regering te wag.”

Volgens Nel hoop AfriForum dat hierdie aksie sal lei tot beter kommunikasie deur die munisipaliteit en dat ’n aksieplan binnekort uitgevoer sal word om die situasie te beredder.

“AfriForum sal die situasie deurlopend moniteer. Mense wat wil help om riviere te rehabiliteer, kan op AfriForum se webblad registreer om aan die volgende rehabilitasie-aksie deel te neem. Saam kan ons die Vaalrivier red.”

Is jou rivier besoedel? SMS die naam van jou dorp na 45354 (R1) en gee AfriForum die mandaat om die gehalte van jou dorp se water te toets.

Soortgelyke plasings