Bulldozer, mynbou
|

Onwettige mynaktiwiteite op Vrystaat-boer se grond verg dringende aandag

AfriForum het vandag ’n dringende beroep op die Departement van Minerale Bronne en Energie gerig om die kwessie waar ’n maatskappy die grond van ’n Vrystaatse boer onwettig betree en reeds begin myn het, te ondersoek en op te los.

Volgens Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum, versoek dié organisasie in ’n brief aan die departement om aandag aan die ernstige saak van onwettige mynaktiwiteite te gee. Hierdie aktiwiteite bedreig en beskadig nie net die omgewing nie, maar skep ook ’n ongunstige omgewing vir eerlike sakelui en gemeenskappe wat die regte prosesse en regulasies volg.

“Ons kan nie stilbly terwyl hierdie onwettige praktyke voortduur nie. Die impak daarvan op ons omgewing en ons samelewing as geheel, is onaanvaarbaar,” sê De Klerk. “Dit is van kardinale belang dat die Departement van Minerale Bronne en Energie onmiddellik ’n omvattende ondersoek begin om die volle omvang van hierdie kwessie vas te stel en diegene wat die wet oortree, verantwoordelik te hou.”

AfriForum vertrou dat die departement die nodige stappe sal doen om hierdie kwessie op ’n deursigtige en doeltreffende wyse te hanteer. Die organisasie is vasberade om saam met relevante regeringsinstansies te werk om ’n omgewing van eerlikheid, verantwoordelikheid en volledige nakoming van wetgewing in die mynbousektor te verseker.

“Ons doen ’n beroep op die departement om sterk leierskap te toon en die nodige stappe te doen om onwettige mynaktiwiteite ten volle te ondersoek en te beëindig,” beklemtoon De Klerk.

AfriForum sal die situasie dophou en is gereed om verdere ondersteuning te bied om ’n omgewing van reg en geregtigheid te handhaaf. “Ons glo in die belang van ’n verantwoordelike en volgehoue benutting van ons natuurlike hulpbronne vir die huidige en toekomstige generasies,” sluit De Klerk af.

Soortgelyke plasings