|

SUKSES: TMPD-beamptes wat Kymie du Toit aftrek word aangekla

Die beamptes van die Tswane Metropolisie (TMPD) wat vir Kymie du Toit in Desember 2019 in Pretoria afgetrek het, gaan vervolg word op klagtes van aanranding in die Hatfield Landdroshof. Die dossier is gister na hierdie hof oorgeplaas en die verdagtes sal nou gedagvaar word nadat ’n hofdatum vir hul eerste verskyning bepaal is. Dit volg nadat AfriForum in 2020 aangekondig het dat die Privaatvervolgingseenheid vir Du Toit gaan bystaan met die strafregtelike klagtes wat sy teen die betrokke beamptes gelê het.

Volgens adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, het die beeldmateriaal van die insident in 2019 opslae gemaak omdat instellings soos die metropolisie en die SAPD bestaan met die doel om die burgery te beskerm, maar dit blyk egter dat sommige beamptes die teenoorgestelde doen. “Beamptes wat skynbaar hulle mag misbruik, moet daarvoor verantwoordbaar gehou word. Die privaatvervolgingseenheid sal daarom voortgaan om vir Kymie te ondersteun deur die hofverrigtinge te monitor om seker te maak dat geregtigheid geskied. Ons sal nie moeg word om te sorg dat die strafregstelsel behoorlik funksioneer nie.”

“Die samelewing kan nie bekostig dat wetstoepassers wat veronderstel is om die wet af te dwing dit, ten koste van wetsgehoorsame burgers, verbreek nie. Wanneer ’n vrou alleen in die nag vreesbevange is om deur die verkeerspolisie afgetrek te word, is dit ’n aanklag teen die verkeerspolisie en die samelewing se vertroue in die bona fides van hul voornemens. Ons hoop dat hierdie saak ander wetstoepassers, wat hulself skuldig maak aan magsvergrype, sal laat herbesin oor die wyse waarop hulle wetsgehoorsame burgers hanteer,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se Privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings