|

Opwindende kamp vir kinders van AfriForum-lede

Die burgerregte-organisasie gaan van 5 – 12 Desember sy heel eerste leierskapsontwikkelingskamp vir kinders van AfriForum-lede aanbied wat vanjaar in gr. 11 is.

Volgens Salet Scheffer, koördineerder van die kamp, wat by Mooikrans Equus in Amersfoort in Mpumalanga aangebied word, is die doel daarvan om jongmense se leierskapsvaardighede te ontwikkel ten einde hulle vir die lewe na skool voor te berei. “Die jeug is die land se toekoms. En dit is vir AfriForum belangrik dat hulle toegerus moet word om die uitdagings van môre positief aan te pak.”

Tydens die kamp, wat op Christelike waardes gegrond is, sal verskeie kenners onder meer lesings aanbied oor kwessies soos Afrikaner-geskiedenis, entrepreneurskap, konflikhantering, probleemoplossing, studentelewe op universiteit, kommunikasie en paraatheid en selfverdediging.

“Dit is vir ons belangrik dat die jeug weer trots in hul herkoms en verlede kry, hul regmatige plek inneem en bemagtig word om hul eie toekoms met hoop en verwagting aan te pak,” meen Scheffer.

Volgens Scheffer sal skoliere wat die kamp bywoon ook die geleentheid kry om aan avontuur-aktiwiteite soos perdry deel te neem.

Daar is net 100 plekke beskikbaar en belangstellendes moet spring om in te skryf om teleurstelling te voorkom.

Ouers sal hulle nie oor die veiligheid van hul kinders hoef te bekommer nie aangesien daar genoeg toesighouers sal wees en streng reëls vir die duur van die kamp sal geld. Die kampkoste is R1 000 per kind en sluit verblyf, drie etes per dag en busvervoer vanaf Pretoria in.

Vir meer inligting en om te registreer, besoek die webtuiste: https://afriforum.co.za/afriforum-leierskamp-vir-graad-11-leerlinge/

 

Soortgelyke plasings