|

KYK: Organisasies en gemeenskap verleen hulp ná vloede in Strand

Die Wes-Kaap het die afgelope paar dae swaar reën gehad wat tot kitsvloede gelei het. In die Strand moes Kay’s Karavaanpark, wat ook lae inkomste behuising aan mense voorsien, die hele park ontruim nadat die Lourensrivier sy walle oorstroom het.

Volgens Lana Strumpfer De Goede, eienaar van Kay’s Karavaanpark, is hierdie die derde vloed in drie weke se tyd wat die park tref. Met Forum Nuus se besoek aan die karavaanpark Dinsdag was inwoners nog besig met opruimingswerk ná ’n vloed wat hulle kort tevore getref het. 51 huise moes ontruim word toe die vloedwater Woensdagoggend in die vroeë oggendure oor die rivier se walle gestroom het. 278 inwoners moes ’n ander heenkome kry en is in sale gehuisves.  

AfriForum, Solidariteit Helpende Hand, die NG Kerk en verskeie plaaslike organisasies het hand bygesit om tydens hierdie noodsituasie te help. AfriForum het reeds ongeveer R25 000 vanuit die organisasie se noodfonds gebruik om onder meer niebederfbare kos, handdoeke en toiletware aan te koop. Helpende Hand het ook aankope vanuit hulle krisisfonds gemaak en matrasse is ook vir die inwoners aangekoop.  

Die Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek in die Strand is naby aan die karavaanpark geleë en heelwat kinders wat saam met hul ouers daar bly, gaan ná skool na die Ons Plek toe waar hulle ’n ete ontvang en hul naskoolonderrig doen.

“Die moraal onder die mense is laag en hulle is baie getraumatiseerd, veral ook nadat hulle al die skade gesien het. Ons het traumaberaders vir die inwoners gereël,” sê Joey Lötter, bestuurder by Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek in die Strand.

Volgens Lötter is groot skade aangerig en van die mense het alles verloor. Hulle is ook bekommerd dat die houtstrukture ineen gaan stort weens al die waterskade.

“Die gemeenskap is ongelooflik en ons het so baie skenkings ontvang. Die Kaapstad Metro het 200 komberse geskenk en lede van die gemeenskap het sop gemaak vir die inwoners. Op die oomblik is ons behoefte finansiële bydraes wat ons oor die volgende weke kan gebruik om te help,” sê Lötter.

Strumpfer De Goede het aan Forum Nuus gesê hulle benodig fondse om te herbou aangesien van die huise so beskadig is dat mense nie weer daarin sal kan bly nie. “Van die huise is al vir vier weke permanent nat en die meeste van die hout het al begin vrot.”

Mense kan ook meubels aan die inwoners skenk en die organisasies is tans op soek na ’n stoorkamer om al die skenkings wat ontvang word in te stoor.

Jacques Benadé, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, sê sandsakke wat vroeër op die rivierwal gepak is, het aan almal ekstra tyd gegee toe die inwoners ontruim moes word. “Die rivier is oorgroei met riete en ander plantegroei en word nie deur die Metro in stand gehou of skoongemaak nie. Dit veroorsaak dat die rivier ’n nuwe wal gemaak het en nou met die erge reën nader aan die huise was.”

Volgens hom is versperrings wat opgerig word die enigste permanente oplossing, maar dit kan egter eers in die somer opgerig word aangesien die area nou te nat is.

“Van ons kant af wil ons graag almal bedank wat gehelp het en tot dusver skenkings gemaak het. In besonder ook dankie aan Iron Skulls Motor Cycle Club, AfriForum en die AfriForum-tak en -buurtwag in die Strand, Solidariteit Helpende Hand, Joey en almal van Ons Plek, die NG Kerk, die Helderberg-gemeenskap en die personeel by Kay’s,” sê Strumpfer De Goede.

Mense wat bydraes wil maak kan direk tot AfriForum of Helpende Hand se fondse bydra sodat dié fondse gebruik kan word om mense te help wat deur die vloede geraak word.

Soortgelyke plasings