Water
|

Parys se AfriForum-tak beteken aanmaning op Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit

AfriForum se Parys-tak het vandag ’n aanmaning op die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit en Fezile Dabi Distriksmunisipaliteit beteken oor die uiters swak dienslewering – veral ten opsigte van die haglike water- en kragsituasie.

Dié tak het al op verskeie geleenthede skrywes aan die munisipaliteit gerig oor water, krag, riool en die vullisterrein, maar nog geen reaksie van die munisipaliteit se kant af ontvang nie. Indien daar nie drastiese verbetering is nie, sal die regspan ’n hofaansoek voorberei sodat daar op provinsiale vlak by die Ngwathe-munisipaliteit ingegryp kan word. 

AfriForum het steeds ’n staande ooreenkoms met die munisipaliteit, wat deur AfriForum nagekom is, maar wat die munisipaliteit tot op hede nog nie nagekom het nie. Indien AfriForum se regspan nie teen 20 September betekenisvolle terugvoer van die munisipaliteit ontvang nie, sal stappe gedoen word om die howe te nader om die nodige remedies af te dwing ten einde die toestand in die Ngwathe-munisipaliteit te verbeter.

“Ons het die munisipaliteit genoeg gewaarsku oor die inwoners se menseregte wat misken word. Daar is eenvoudig geen positiewe reaksie van hulle kant af nie. As ons dan nou genoop word om die howe te nader, dan doen ons dit. Die belastingbetalers in Parys het nou genoeg swaargekry,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die tak aan te sluit. Kontak vir Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak,  by 081 392 2071om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings