| |

AfriForum se Sasolburg-buurtwag pak veiligheidsbrandpunte suksesvol aan 

AfriForum se Sasolburg-buurtwag het die afgelope maand ’n reuse-bydrae gemaak om veiligheid in Sasolburg op te skerp. Verskeie patrollies, meestal in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), is met sukses onderneem. Misdaadvoorkoming in dié gemeenskap is ’n belangrike prioriteit vir dié buurtwag en daarom is leё huise, groenstroke en substasies gepatrolleer. Daar is voorts bystand verleen aan die SAPD met die ondersoek van ’n gewapende roof.

Padveiligheid is ook dié maand getakel, verduidelik Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder van die Mooirivier. ’n Padblokkade is daarom, in samewerking met die SAPD, op die berugte R57-pad opgestel en 21 boetes vir verkeersoortredings is hiertydens uitgereik. Enkele arrestasies vir die besit van onwettige of gesteelde goedere – soos gesteelde koperkabels – is tydens dié operasie gemaak. 

Die Sasolburg-buurtwag het intussen ook ’n weeklikse patrollie van die plaaslike begraafplaas ingestel. “Dié patrollie, wat op ’n rotasiebasis deur die buurtwaglede onderneem word, vind elke Sondag vanaf 11:30 en 13:30 plaas en bied nou aan die publiek die geleentheid om geliefdes se grafte in vrede te besoek. Die gemeenskap waardeer hierdie gebaar en die aantal besoekers groei elke Sondag,” sê Pretorius. 

“Hierdie buurtwag maak ’n daadwerklike verskil in hul gemeenskap en die feit dat daar baie goeie samewerking met die plaaslike SAPD is, maak die buurtwag én die polisie se taak soveel makliker. Dit is weereens ’n bewys daarvan dat dit wys is om met mekaar hande te vat. Die resultate is net soveel beter,” beklemtoon Pretorius. Indien jy graag by die Sasolburg-buurtwag se projekte betrokke wil raak, kontak Johan Potgieter, leier van die Sasolburg-buurtwag, by 082 337 5983.

Soortgelyke plasings