|

Parys-tak woeker met #OnsDorp-projek te midde van krag- en waterkrisis

Die AfriForum-tak in Parys het ten spyte van die krag- en waterkrisis in dié dorp steeds ’n aantal projekte van stapel gestuur die afgelope twee maande. Hierdie tak het in Julie as deel van die organisasie se #OnsDorp-projek slaggate gevul in Schilbachstraat voor die Blikoortjies Kleuterskool. Daar is 50 sakke, oftewel ’n bietjie meer as een ton, teer gebruik.

Om die inwoners te help om deur die waterskaarste te kom, is die watertenk by die NG gemeente Suidkerk opnuut onder die inwoners se aandag gebring en het talle mense daar kom water haal. Die Parys-tak het ook water by mense gaan aflewer wat nie self water kan gaan haal nie. Op hierdie wyse is daar ongeveer 100 000 liter water aan inwoners verskaf.

Omliggende AfriForum-takke het ook ingespring en water en niebederfbare kos ingesamel wat deur Parys se tak versprei is onder inwoners. Dié tak betuig groot dank aan die takke in Sasolburg, Potchefstroom en Vanderbijlpark vir hul ruim donasies in hierdie verband. Daar word ook deur die Parys-tak deurgaans inligting aan die inwoners deurgegee oor die water- en kragsituasie in hierdie dorp.

Wanneer die krag in Parys af is, probeer die plaaslike AfriForum-buurtwag patrollies doen, veral om kabeldiefstal, wat hoogty vier tydens kragonderbrekings, hok te slaan. Daar is egter te min patrolleerders en die buurtwag doen ’n beroep op inwoners om betrokke te raak.  

“Dit is merkwaardig dat inwoners in krisistye hande vat en mekaar ondersteun. Parys se inwoners gaan werklik deur ’n moeilike tyd, daarom is dit vir AfriForum baie sleg dat daar ná drie weke nog nie uitspraak op hul dringende hofaansoek om ingrype met die krag- en watersituasie, is nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Kontak Fanie Kruger by 072 989 0901 om by die Parys-buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings