|

Geregtigheid gesoek ná nalatigheid van vroedvrou

AfriForum se privaatvervolgingseenheid lewer tans hulp aan Carien Möller en haar man, Jaco, asook Alysia von Kloëg en haar man, Brendon, in hul onderskeie sake teen Yolande Maritz, ’n voormalige vroedvrou van Pretoria.

Möller en die Von Kloëg-egpaar het onderskeidelik klagtes van strafbare manslag en poging tot moord by die SAPS teen Maritz gelê nadat nalatigheid tydens geboorte glo tot die dood van die Von Kloëg’s se baba seuntjie nege dae ná sy geboorte gelei het. Möller se dogtertjie is serebraal gestremd gelaat. Die eenheid tree ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag in hierdie sake op.

Maritz het na bewering die aanbevole dosis Cytotec oorskry deur aan Möller twee tablette op een slag te gee waarna sy erge kontraksies begin ervaar het en haar baba in skok gegaan het tydens geboorte.

Die polisie ondersoek na die onnatuurlike dood van die Von Kloëg-egpaar se seuntjie volg ná bewerings dat Maritz nie gehoor gegee het aan die ouerpaar se bekommernisse oor abnormaliteite tydens die sonar wat op 24 weke gedoen is nie. Verder beweer Von Kloëg dat Maritz vir haar tablette gegee het wat skynbaar kalmeerpille was waarna sy etlike minute later kontraksies begin kry het en hul seuntjie sowat ’n uur later gebore is. Von Kloëg sê sy het geweet iets is fout omdat haar seuntjie abnormaal asemgehaal het en nie ’n geluid gemaak het nie.

Maritz is in 2021 deur die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging skuldig bevind aan nalatige en onprofessionele gedrag en permanent gederegistreer as vroedvrou. Sy het teen die bevinding appelleer maar dit is van die hand gewys.

Die privaatvervolgingseenheid het in Januarie vanjaar ’n skrywe aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gerig oor die status van die sake wat teen Maritz geopen is. Die sake is volgens die NVG na ’n gespesialiseerde eenheid vir ondersoeke oorgeplaas.

“Ons is bemoedig oor hierdie verwikkeling en ons glo dat sy op al die kriminele klagtes teen haar moet reageer. Dit is egter kommerwekkend dat dit herhaalde ingryping van die privaatvervolgingseenheid verg om te verseker dat die strafregstelsel funksioneer soos dit moet,” sê Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid. 

Soortgelyke plasings