|

Plaasmoorde: Amper een moord per week en tog kyk regering anderpad

Ons vra nie spesiale behandeling nie, ons vra net gelyke behandeling – AfriForum

Nagenoeg een moord per week het gedurende 2023 op Suid-Afrikaanse plase afgespeel in die 296 plaasaanvalle wat gedurende dié tyd plaasgevind het. Dít terwyl die Suid-Afrikaanse regering anderpad kyk en aan die vooraand van die nasionale verkiesing besluit het om nie die jongste misdaadstatistiek bekend te stel nie. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se misdaadstatistiek vir die vierde kwartaal van 2023/2024 moes verlede week bekendgestel geword het, maar dit blyk dat die ANC-regering nie so kort voor die verkiesing kans sien om die feite wat uit die statistiek na vore kom, in die oë te kyk nie.

AfriForum se jongste jaarlikse verslag oor plaasaanvalle en -moorde wat vandag in Centurion vrygestel is, toon dat 49 plaasmoorde (dus 0,94 moorde per week) gedurende 2023 plaasgevind het in 296 aanvalle (oftewel 5,7 plaasaanvalle per week).

Die burgerregteorganisasie het die dubbele standaarde in die SAPD se benadering ten opsigte van die voorkoming van en ondersoeke na sekere misdade gekritiseer en voer aan dat geen moord as minder belangrik geag mag word nie. Wanneer moorde egter ’n unieke inslag het, soos wat die geval met plaasaanvalle en -moorde is, behoort ’n gespesialiseerde benadering gevolg te word.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, het misdaad en geweldsmisdaad in die besonder in Suid-Afrika ’n pandemie geword wat oënskynlik buite beheer geraak het. Intussen het die Suid-Afrikaanse regering en die topleierskap van die SAPD min van betekenis gedoen om hierdie plaag te bekamp. “Geen moord is belangriker as ’n ander nie, en so ook is geen moord minder belangrik as ’n ander nie. Wanneer dit egter by plaasmoorde kom, is dit presies hoe die Suid-Afrikaanse regering dit sien,” benadruk Broodryk.

Die toekenning van hulpbronne aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vir ondersoeke na sekere ernstige en georganiseerde misdade, sowel as ’n spesifieke benadering deur die SAPD en ander rolspelers in die bekamping van sekere tipes misdade – waarna in die bedryf as prioriteitsmisdade verwys word – word gevolg. Transitorooftogte, onwettige mynbou en polities gemotiveerde moorde is van die misdade waarvoor spesiale ministeriële taakspanne vir die voorkoming en ondersoekdoeleindes saamgestel is.

“’n Gespesialiseerde benadering tot unieke misdade moet verwelkom word,” verduidelik Broodryk. “Daar bestaan egter vrae oor waarom die Suid-Afrikaanse regering weier om dieselfde benadering met plaasaanvalle en -moorde te volg. In sekere gevalle is die voorkoms van plaasaanvalle en -moorde veel hoër, meer gewelddadig en vereis ’n veel meer gespesialiseerde benadering as sekere van die misdade wat wel geprioritiseer is.”

Broodryk se stelling word duidelik in die volgende moordstatistiek:

  • Aantal politieke sluipmoorde in 2022: 40
  • Aantal moorde wat verband hou met onwettige mynbou-aktiwiteite in 2023: 41
  • Aantal plaasmoorde in 2023 (volgens AfriForum-databasis): 49

Ten spyte van bogenoemde statistiek het president Cyril Ramaphosa tydens ’n besoek aan New York in 2018 nog die bestaan van plaasmoorde ontken.

Ten opsigte van aanvalle of voorvalle kan die volgende statistiek ook vergelyk word:

  • Aantal transitorooftogte in 2023: 234
  • Aantal plaasaanvalle in 2023 (volgens AfriForum-databasis): 296 

Die voorkoms van 234 transitorooftogte in 2023 het ’n gespesialiseerde optrede van owerhede tot gevolg gehad. Daarteenoor word die 296 plaasaanvalle in dieselfde jaar skynbaar geïgnoreer.

“Die waarde wat die ANC-regering op menselewens plaas, is duidelik nie gelyk nie. Hierdie dubbele standaarde is skokkend,” sê Broodryk.

AfriForum sal intussen deur sy meer as 170 veiligheidstrukture en meer as 10 000 opgeleide vrywilligers landwyd die stryd vir veiligheid van die gemeenskap aktief voortsit. Hierdie strukture slaag telkens daarin om plaasaanvalle af te weer en misdadigers wat hul aan dié misdade skuldig maak, aan te keer. AfriForum sal voortgaan om sy veiligheidsnetwerk verder uit te brei, opleiding te bied en gemeenskapslede toe te rus met die nodige vaardighede om binne die raamwerk van die wet op te tree en misdaad hok te slaan.

“Terwyl die Suid-Afrikaanse regering voortgaan om hul oë te sluit vir die werklikheid van plaasaanvalle, en politici soos Julius Malema en sy ondersteuners voortgaan om openlik ‘Kill the Boer, kill the farmer’ te dreunsing, vra AfriForum nie vir spesiale behandeling van plaasmoorde en -aanvalle nie – ons vra bloot vir gelyke behandeling,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings