|

Gewelddadigheid van plaasaanvalle is steeds hoog, luidens AfriForum-verslag

Die boodskap by vandag se AfriForum-konferensie waar dié burgerregteorganisasie se jaarlikse plaasaanval en -moordverslag bekendgestel is, is dat die gewelddadigheid van plaasaanvalle steeds hoog is en dus met dieselfde erns as ander prioriteitsmisdade hanteer moet word.

“Die regering en polisie doen oor die algemeen nie genoeg om misdaad te bekamp nie, maar hoewel daar sekere misdade is wat as prioriteitsmisdade geklassifiseer is, is plaasaanvalle en -moorde nie hierby ingesluit nie. Ons sê nie plaasaanvalle en -moorde moet voorkeur kry nie, maar dit moet ten minste gelyke behandeling kry eerder as wat die president ontken dat daar so iets is,” sê Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum

Broodryk noem dat waar onwettige mynbedrywighede, politieke sluipmoorde en transitorooftogte as prioriteitsmisdade geklassifiseer is, dit nie die geval met plaasaanvalle en -moorde is nie. Dít terwyl statistiek wys dat daar meer plaasaanvalle en -moorde voorkom as van enige van die ander drie.

Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum

Daar was in 2023 landwyd 296 plaasaanvalle en 49 plaasmoorde. Wat politieke sluipmoorde aanbetref was daar in dieselfde tydperk 40 moorde en 41 wat onder die kategorie vir onwettige mynbedrywighede val. Daar was 234 transitorooftogte in 2023.

Die gewelddadigheid wat dikwels by  plaasaanvalle voorkom, is ook ’n groot bekommernis. “Daar is gevalle waar slagoffers gemartel is. In twee gevalle is slagoffers doodgebrand en in nog twee gevalle is ’n slagoffer verwurg of versmoor. Daar was ook 13 gevalle waar die slagoffer doodgeslaan of gesteek is en selfs waar die slagoffer geskiet is, is die slagoffer dikwels verskeie kere geskiet,” sê Johan Nortjé, navorser by AfriForum.

Johan Nortjé, navorser by AfriForum

Die meeste plaasaanvalle word deur twee of meer aanvallers uitgevoer. Die jongste plaasmoordslagoffer was 14 jaar oud en die oudste een 87 jaar. Laasgenoemde is saam met sy seun deur vyf booswigte aangeval. Amper twee-derdes van plaasmoordslagoffers is ouer as 60. Daar is egter genoeg bewyse dat slagoffers se ouderdom nie aanvallers se optrede beïnvloed nie.

Alhoewel Gauteng en Noordwes die meeste plaasmoorde in 2023 gehad het, het hierdie twee provinsies die laagste persentasie vir arrestasies in die land. In Gauteng is net 11% van verdagtes in 2023 gearresteer en in Noordwes net 13%. In die Oos-Kaap, Limpopo en die Wes-Kaap is meer as 80% van verdagtes in hegtenis geneem.

Volgens dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, is betreding ’n algemene probleem op plase en dit is hierdie misdaad, wat as niks afgemaak word, wat die beginpunt van veel ernstiger misdaad is.

“Alle boere waarmee ons praat kla oor betreding op hul eiendom. Dit voel vir hulle of daar niks hieraan gedoen word nie, want as hulle dit wel aanmeld, word omtrent niemand hieraan skuldig bevind nie. Dis tog belangrik dat boere deur die proses gaan om gevalle van betreding aan te meld sodat ons interdikte teen gereelde oortreders kan bekom. Saai kan regsgeleerdes aanbeveel wat kan help met die proses om ’n klag teen betreders te lê. Ons wil AfriForum ook bedank vir die hulp wat hul plaas- en buurtwagte bied om te help om plase te beveilig,” sê De Jager.

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai

AfriForum het in 2012 reeds veiligheidstrukture in plek begin sit en daar is tans meer as 170 AfriForum-plaas- en buurtwagte regoor die land. Vind hier meer uit oor AfriForum se buurtwagte en lees die volledige plaasaanval en -moordverslag hier.

Soortgelyke plasings