|

Plaasmoorde ’n vorm van terreur, sê AfriForum  

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag die gemeenskap van Senekal toegespreek en plaasaanvalle en -moorde as ’n vorm van terreur bestempel.

Dié aankondiging volg op die moord op Brendin Horner (22), wat onlangs wreedaardig vermoor is op ’n plaas buite dié dorp.

Verteenwoordigers van AfriForum was deel van duisende mense wat bymekaar gekom het op die dag waarop die verdagtes wat in verband met Horner se moord in hegtenis geneem is in die hof verskyn het.

“Die oplossing vir die probleem van plaasmoorde is tweeledig. Die boodskap van plaasmoorde moet na die uithoeke van die wêreld en die raadsale van die Verenigde Nasies geneem word om te verseker dat die internasionale gemeenskap daarvan kennis neem,” sê Ernst Roets, AfriForum se hoof van Beleid en Aksie. “Die tweede deel van die oplossing – wat selfs belangriker is – is dat mense moet besef dat die regering nié die krisis gaan oplos nie. Gemeenskappe moet eerder sélf die oplossing word deur by gemeenskapveiligheidstrukture aan te sluit om beter na hul eie veiligheid om te sien,” sê Roets.

AfriForum het buite die hof gesien hoe mense medelye en deernis betoon, maar ook dat mense woedend is oor die situasie in die land.

“Die woede wat die mense vandag hier uitgedruk het, is die gevolg van die wreedheid van die probleem wat eenvoudig nie stop nie en wat boonop gepaard gaan met die traak-my-nie-agtige houding wat die regering teenoor plaasmoorde inneem,” sluit Roets af.

Soortgelyke plasings