| |

AfriForum se Albertinia-plaaswag trek plantsmokkelaars vas

Twee verdagtes het op 13 September in die plaaslike landdroshof op Riversdal verskyn op aanklagte van die onwettige besit van beskermde plantspesies. Dit volg nadat lede van AfriForum se Albertinia-plaaswag en Riversdal-buurtwag op 11 September gehelp het om dié verdagtes vas te trek wat in die onwettige besit was van sowat 50 plante van meer as 25 verskillende bedreigde plantspesies. Verskeie proteas, fynbos- en vetplante is in hul besit gevind toe die polisie hulle in Riversdal in hegtenis geneem het.

Dié arrestasies spruit uit knap patrollering van lede van die Albertinia-plaaswag wat die betrokke dag omstreeks 11:20 ’n rooi Hyundai-voertuig, wat al vantevore as verdag aangemeld is, in die omgewing opgemerk het. Verskeie plante was duidelik sigbaar in die voertuig en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en Cape Nature Riversdal is van die verdagte voertuig in kennis gestel. Met hul aankoms is bepaal dat die verdagtes inderdaad in die onwettige besit van bedreigde proteas, fynbos- en vetplantspesies was en is gearresteer.

Volgens Johan Wessels, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Hessekwa-tak, is die smokkel in vetplante en fynbos, sowel as talle ander fauna en flora, ’n reuse-uitdaging in die Suid-Kaap.

“Verskeie AfriForum-takke in dié streek werk nou saam met die plaaslike polisie en gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) om hierdie smokkelaars aan te keer. Die gesteelde plantjies word dikwels in ou voertuigbuitebande versteek en vervoer. ’n Gevulde band word dan op die swartmark teen duisende rande verkoop,” verduidelik Wessels.

“Vandeesweek se gebeure is weereens ’n bewys van die waarde van uitstekende samewerking tussen gemeenskapslede, die SAPD en Cape Nature,” sê Wessels. “Ek bedank graag almal wat saamgewerk het om hierdie bedreigde plante te herwin. AfriForum sal voortgaan om met die SAPD en Cape Nature saam te werk om ons omgewing te beskerm.”

Raak betrokke by jou plaaslike AfriForum-tak of -buurtwag om ’n verskil in jou gemeenskap te maak en die omgewing te beskerm. Sluit aan by AfriForum of stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings