Plaasmoorde in Suid-Afrika: Weduwee se boodskap aan VSA versprei soos ’n veldbrand op sosiale media


Die videoboodskap van ’n weduwee – wie se man tydens ’n plaasaanval voor haar en haar gesin vermoor is – aan pres. Cyril Ramaphosa en die mense van die VSA het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei – nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in die VSA.

Mariandra Heunis, weduwee van Johann Heunis wat op 1 Oktober 2016 op hul kleinhoewe vermoor is, het haar tot sosiale media gewend as terugvoer op Ramaphosa se onlangse uitlating in die VSA dat daar geen plaasmoorde in Suid-Afrika is nie. Die video is binne enkele dae meer as 85 000 keer op YouTube en meer as ’n halfmiljoen keer op Facebook gekyk. Die video is ook meer as 35 000 keer op Facebook gedeel en is veral deur mense in die VSA versprei.

“My husband was shot six times during such an attack. He was murdered in cold blood in front of me and my six year old daughter,” sê Heunis in die video. “These attacks do happen. It happens almost daily. Our story is one of thousands.” Heunis vra dan aan die mense van die VSA wat húlle sou doen as hulle in haar situasie was – as hulle geliefdes vermoor word en hulle regering ontken dat dit gebeur. Sy doen ’n beroep op mense van die VSA om haar boodskap te versprei, om standpunt in te neem oor die realiteit van plaasmoorde, asook om hulle verteenwoordigers te vra om standpunt in te neem oor wat besig is om in Suid-Afrika te gebeur.

Heunis sê dat sy oorweldig is met terugvoer en boodskappe van steun, en dat sy dankbaar is vir elke persoon wat bygedra het om die boodskap te versprei en die kwessie op die agenda te hou.
Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê die burgerregte-organisasie beoog om ’n opvolgtoer na die VSA te onderneem om sodoende steun te werf vir die organisasie se veldtogte teen sowel plaasmoorde as teen die Suid-Afrikaanse regering se pogings om privaat eiendom sonder vergoeding te onteien. Die organisasie beoog om Heunis saam te neem om haar storie in persoon te deel.
 

Soortgelyke plasings