|

Polisie moet AfriForum-vrou betaal ná onregmatige arrestasie

Mariska Batt (26), ’n mediaskakelbeampte by AfriForum, het vandag in die Pretoriase landdroshof verskyn op aanklagte van roekelose en nalatige bestuur nadat sy op 31 Maart 2015 gearresteer en aangehou is omdat sy sowat 10 m in die verkeerde rigting in Lenchenlaan, Centurion, gery het. Sy is na sewe ure op borgtog vrygelaat.

Die hof het gelas dat die arrestasie en aanhouding onregmatig was en op grond daarvan is ’n bedrag van R30 000 aan Batt toegestaan. Die polisie moet ook die regskostes betaal.

Sy het die voorval as ’n eerlike fout beskryf en sê dit was die aand stikdonker en sy was verbouereerd. “Dit was my eerste keer op daardie pad en ek was verward. Daar was geen straatligte aan nie en ek was half benoud omdat dit so stil en verlate was en ek as vrou alleen gery het.”

Batt sê ’n aankomende motor het haar gewaarsku toe sy in die staat opgery het. Sy het dadelik omgedraai, ’n polisievoertuig gesien en stilgehou. ʼn Motoris het sy hoofligte vir my geflits en ek het dadelik omgedraai. Die Lyttelton-polisie het my afgetrek en vir beweerde nalatige en roekelose bestuur in hegtenis geneem.”

Een van die twee polisiebeamptes het gesê sy is ’n misdadiger wat ander se dood veroorsaak. Hy het toe met haar motor na die Lyttelton-polisiekantoor gery met haar op die passasiersitplek. Sy vertel dat hy twee keer op sy selfoon gepraat het terwyl by bestuur het. Hy het ook nie dadelik sy sitplekgordel vasgemaak nie. “Ek het vir my ma gesê dat dit so ironies is want hy oortree verskeie verkeersreëls, maar maak asof ek so sleg is.”

Die polisie het haar ma, Madeleine Batt, en werkgewer Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, by die polisiekantoor gedreig met arrestasie omdat hulle te veel vrae gevra het.

Sy is sowat twee en ʼn half ure in ’n sel by die Garsfontein-polisiekantoor aangehou. “Dit was donker en koud. Hulle het vir my ʼn vrot hondekombers gegee en gesê ek kan myself daarmee toemaak.”

Daarna het die beamptes eers deur die Pretoriase middestad gery voordat hulle haar na Lyttelton teruggeneem het.

Batt het na die nagmerrie-ondervinding ’n skadevergoedingseis  teen Nkosinathi Nhleko, minister van polisie, ingestel weens die beweerde onregmatige arrestasie en aanhouding.

AfriForum het verneem dat tussen 60% en 80% van die hofsake op die daaglikse rol van die Pretoriase landdroshof teen die minister van polisie is.

In 2015 is berig dat siviele eise teen die polisie belastingbetalers reeds meer as R860 miljoen in die voorafgaande ses jaar beloop het.

In 2009/2010-boekjaar het die polisie regskostes van sowat R89 miljoen betaal. In Maart 2015 het dit meer as R278 miljoen beloop.

Batt sê sy is baie verlig dat die saak uiteindelik verby is. “Ek sal ander mense aanmoedig wat in dieselfde situasie as ek beland om dit verder te neem. Dit gaan nie oor die geld nie, maar eerder om geregtigheid te laat geskied wanneer iets onregmatig met jou gebeur.”

“Hoewel ek weet dat nie alle polisielede oor dieselfde kam geskeer kan word nie. Ek het na die voorval my vertroue in die polisie verloor en is steeds bang as ek hulle sien.”

Nantes Kelder, hoof van AfriForum Trauma, het die uitspraak verwelkom. “Dit gebeur te veel dat lede van die publiek onnodig getraumatiseer word wanneer hulle onregmatig gearresteer word. Dit dui op magsmisbruik deur die polisie en dit moet aan die kaak gestel word. Die publiek moet nie terugstaan nie. Polisielede wat hulle aan vergrype skuldig maak, moet tot verantwoording geroep word.”

 

 

 

 

Soortgelyke plasings