Postmasburg-probleme: AfriForum nader Cogta


Die burgerregte-organisasie AfriForum se Postmasburg-tak het onlangs met die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) vergader om probleme in dié dorp te bespreek.

Die tak het Cogta genader ná talle pleidooie aan die Tsantsabane Plaaslike Munisipaliteit op dowe ore geval het. ’n Verteenwoordiger van Cogta het die tak besoek waartydens daar onder meer ooreengekom is dat alle kommunikasie wat aan die munisipaliteit gestuur word oor probleme in die dorp, ook aan Cogta gestuur sal word.

“Kwessies soos riool-, water- en elektrisiteitsprobleme sloer al sedert 2016. Die munisipaliteit steur hom egter nie aan enige klagtes of versoeke om in samewerking met AfriForum dié probleme te takel nie,” sê Gonda Louw, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Noord-Kaap.

Volgens Louw het die tak in November 2016 ’n strafregtelike klagte weens waterbesoedeling teen G.H. Matobela, munisipale bestuurder, by die polisie aanhangig gemaak, maar tot op hede geen terugvoer ontvang nie.

“In Januarie vanjaar het Sedibeng Water die watertoevoer na Postmasburg beperk omdat die munisipaliteit agterstallige skuld het. Die munisipaliteit is ook diep in die skuld by Eskom.”

Louw sê voorts dat AfriForum ook in dié tyd met Maria Daniels, burgemeester, vergader het maar ook geen ondersteuning van haar ontvang het nie.
In Februarie 2017 het die tak die departement van water en sanitasie (DWS) genader oor die voortslepende rioolprobleme, asook om druk op die munisipaliteit te plaas, waarna herstelwerk aan die pompstasies begin is.
Pompstasies in Boichoko is steeds buite werking en AfriForum beoog om die DWS weer in dié verband te nader.

“Hierdie is nie net klein probleempies nie. Dit is ernstige probleme wat groot gesondheids- en veiligheidsrisiko’s vir die gemeenskap inhou. Inwoners se regte word geskend deur die munisipaliteit se versuim om herstelwerk te verrig en infrastruktuur op te gradeer. Inwoners word direk benadeel deur die wanfunksionering van die munisipaliteit en die wanbesteding van belastinggeld,” sluit Louw af.

 

Soortgelyke plasings