|

Pretoria-buurtwagte neem deel aan nasionale massapatrollie

AfriForum se Pretoria-buurtwagte het op 19 April aan die organisasie se nasionale massapatrollie deelgeneem. Dié patrollie het in samewerking met verskeie sekuriteitsmaatskappye en gemeenskapslede plaasgevind, wat gehelp het om sigbaarheid in Pretoria te verhoog.

Nege plaaslike AfriForum-buurtwagte het aan die massapatrollie deelgeneem. In elke gemeenskap is daar inisiatiewe van stapel gestuur wat op daardie spesifieke gemeenskap van toepassing is. Die Centurion-buurtwag het opleiding in noodhulp vlak 1 en 2 ontvang en onwettige borde tydens die patrollies verwyder. Die Moreletapark-buurtwag het op Solomon Mahlangu-rylaan ’n duikweg-patrollie gehou en die Pionier-buurtwag het op ’n motorkapingstoneel gehelp.

“Dit is vir AfriForum noodsaaklik om massapatrollies saam met ander instansies en organisasies van stapel te stuur om te verseker dat ons gemeenskappe veilig is,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se ditrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Ungerer wens die AfriForum-strukture geluk met hul suksesse tydens die massapatrollie en bedank die ander instansies wat betrokke was vir hul onbaatsugtigste diens aan die gemeenskap.

Raak vandag aktief by AfriForum se buurtwagte betrokke: E-pos jou naam na afriforum@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings