|

Privaatvervolgingseenheid soek antwoorde oor verslag van raad van ondersoeke oor militêre polisie-baas

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n skrywe aan Generaal Rudzani Maphwanya gerig om op te volg oor die implementering van ’n raad van ondersoeke se bevindings oor ernstige aantygings waarby die militêre polisie betrokke is. Dié raad het spesifiek gekyk na die optrede van skout-admiraal Mokgadi Maphoto gedurende die tydperk van Januarie 2017 tot 31 Augustus 2022.

Die privaatvervolgingseenheid het inligting ontvang van Adjudantoffisier Raphael Ndawo wat vir vyf dae getuig het voor die raad van ondersoek en ook oor sy getuienis gekruisondervra is. Die skrywe is aan Maphwanya gerig in sy hoedanigheid as die sameroepende gesag van die raad van ondersoek.

Daar is wyd berig oor die bewerings teen Maphoto, insluitend bewerings dat hy ingemeng het in die ondersoek wat verband hou met korrupsie en die misbruik van staatshulpbronne deur senior beamptes. Hierdie bewerings kom teen die agtergrond van berigte dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) deur begrotingsbesnoeiings só lamgelê is dat slegs ’n fraksie van sy vliegtuie in staat is om te werk.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, sê in sy skrywe aan Maphwanya en Eric Mnisi, hoof van die SANW se regsafdeling, dat die eenheid die gebrek aan aanspreeklikheid vanaf die regering, spesifiek ten opsigte van die SANW, as die regering se toelating van hierdie wanpraktyke beskou.

“Die eeue-oue vraag quis custodiet Ipsos custodes – wie sal oor die wagte waak – was nog nooit meer gepas nie. Die raad van ondersoek het ernstige aantygings teen die militêre polisie ondersoek, maar dit blyk dat die sameroepende owerheid óf laissez-faire is óf doelbewus sy plig om op te tree versuim. Dit dien geen doel as geld en moeite aan ’n raad van ondersoek bestee word, net om opgeskort te word omdat ’n  ‘vertroude’ lid van senior bestuur ontbloot is nie.”

Nel sê voorts dat dit al male sonder tal duidelik was dat persone in gesagsposisies hulself bo aanspreeklikheid verhef. “Ons sal nie huiwer om ’n hof te nader om hierdie persone te verplig om hul pligte uit te voer nie.”

Die eenheid sal voortgaan om met die SANW te skakel om antwoorde te kry oor die vordering van hierdie saak. “Ons hoop dat die eenheid se verdere ingryping sal onnodig wees en dat generaal Maphwanya sal optree soos die bevindings van die raad van ondersoek vereis,” sluit Nel af.

Soortgelyke plasings