|

Parys-tak verkla Ngwathe-munisipaliteit oor onwettige kragverbindings

Die AfriForum-tak in Parys het vandeesweek ’n klag by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) ingedien oor onwettige en lewensgevaarlike kragverbindings in dié dorp. Dié klag volg op ’n skrywe wat die tak in Augustus aan Nersa gerig het omdat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit versuim om iets te doen aan die onwettige verbindings – wat in sommige gevalle deur munisipale amptenare gedoen is. Hoewel Nersa ’n persoon aangewys het om hierdie kwessie uit te klaar het daar steeds niks van gekom nie. Dit blyk of die onwettige kragverbindings net toeneem.

AfriForum beklemtoon dat indien hierdie onwettige verbindings lei tot sterftes of ernstige beserings, die munisipaliteit en Nersa aanspreeklik gehou sal word. Een van die plekke waar ’n kabel vir ’n onwettige verbinding oor die grond loop naby ’n skool is ook al verskeie kere aangemeld sonder sukses.

“Dit is kommerwekkend dat Nersa nie hierdie probleem ernstig genoeg beskou om op te tree nie. Dit is duidelik dat die inwoners van Parys en hul stryd om water en krag glad nie vir enige staatsdepartement van belang is nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Volgens Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake, is dit Nersa se wetlike plig as energiereguleerder om te verseker dat elektrisiteitsverspreiders, soos munisipaliteite, aan lisensievoorwaardes voldoen en wetlik optree. “Hierdie agterlosigheid aan die munisipaliteit se kant stel die gemeenskap onnodig in gevaar. Dit is onverantwoordelik van Nersa om nie in te gryp nie.”

Indien jy by die AfriForum-tak wil betrokke raak, kontak vir Schalk Burger by 082 653 4281.

Soortgelyke plasings