|

Privaatvervolgingseenheid veroordeel strafregstelsel wat kinders faal

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandag se verrigtinge in die Brits Landdroshof as betreurenswaardig en uiters teleurstellend bestempel. Dit volg nadat verskeie klagtes van verkragting teen twee mans, asook die ma van ’n jong dogtertjie, vandag teruggetrek is. Die beweerde misdade is reeds in 2018 gepleeg toe die dogtertjie maar vier jaar oud was.

Geen redes is vandag in die hof verskaf vir waarom die saak teen die persone teruggetrek is nie, maar daar kan afgelei word dat dit as gevolg van die lang tydsverloop tussen die pleging van die beweerde misdade en die uiteindelike vervolging is. Die twee mans wat van die verkragtings beskuldig was, het ook vanoggend aangedui dat hulle van regsverteenwoordiger gaan verander en nou deur Lazarus-prokureurs verdedig word, ten spyte van die feit dat die saak sekondes later teruggetrek is.

Die saak is wel teruggetrek voordat die persone gepleit het, wat beteken dat dieselfde klagtes wel weer in die toekoms teen hulle ingestel kan word. Daar is ook geen verjaring vir die misdaad van verkragting nie.

Volgens Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is vandag se verloop van sake tekenend van die verval van die strafregstelsel en die staat se onvermoë om die mees weerlose lede van ons samelewing te beskerm. Hierdie saak is aanvanklik sonder enige rede deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) van die rol geskrap. Nadat die privaatvervolgingseenheid vertoë gerig het, het die staat weer besluit om vervolging in te stel. Die druk wat die eenheid uitgeoefen het, het ook verseker dat die direkteur van Openbare Vervolging (DOV) die saak aan ’n senior staatsadvokaat toegewys het. Daarna is die saak egter steeds gekenmerk deur verskeie uitstelle, onder meer omdat daar nie ’n streeklanddros beskikbaar was nie, dat die plaaslike aanklaer klaarblyklik nie van die DOV se besluit om die saak aan ’n staatsadvokaat toe te wys, geweet het nie en dat die beskuldigdes befondsing vir hul regsverteenwoordiger moes bevestig.

“As die NVG van die begin af die wil gehad het om die ekstra moeite te doen wat sake van geweld teen kinders vereis, sou die jong slagoffer nie aan hierdie tipe sekondêre trauma blootgestel geword het nie. ’n Mens sou dink dat die staat met al sy beloftes om kinders en vrouens teen geweld te beskerm erns sou maak met sake soos hierdie, maar die blote feit dat die slagoffer vier jaar moes wag voordat die verhoor sou begin het, spreek boekdele,” sê Venter.

Soortgelyke plasings