ligte, elektrisiteit
|

AfriForum versoek NERSA finaal om AbaQulusi se lisensie vir die distribusie van elektrisiteit terug te trek

AfriForum se Vryheid-tak het op 1 Februarie die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) finaal gevra om die AbaQulusi Plaaslike Munisipaliteit se lisensie vir die distribusie van elektrisiteit terug te trek. Dit volg nadat NERSA dié munisipaliteit in Oktober 2023 op ’n vorige versoek van AfriForum geoudit het.

Tydens NERSA se besoek het lede van die AbaQulusi-munisipaliteit NERSA versoek om nie die lisensie vir die distribusie van elektrisiteit terug te trek nie en verskeie beloftes is gemaak om met instandhouding te begin. Soortgelyke beloftes is ook in 2019 deur dié munisipaliteit aan NERSA gemaak.  

“Sedert die oudit in Oktober 2023 het daar twee of drie vergaderings plaasgevind waartydens beloftes weereens gemaak is. Daar is egter nog geen verbetering in die distribusie van elektrisiteit nie en die verskaffing van elektrisiteit in Vryheid het nou katastrofiese afmetings aangeneem. Ons remedies is uitgeput en AfriForum het geen ander keuse as om NERSA te dwing om die munisipaliteit se lisensie te hersien nie,” sê André van der Walt, AfriForum se takvoorsitter in Vryheid.

“Verswakte dienslewering en spesifieke elektriese verspreiding het ’n geweldige negatiewe uitwerking op die ekonomie, dus kan hierdie standaard dienste nie meer aan die regering toevertrou word nie,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder van KwaZulu-Natal.

AfriForum sal voortgaan om die hof te nader om druk op die owerhede toe te pas om hierdie lisensie te hersien.

Soortgelyke plasings