Sakenetwerk bied Besigheidsbytjies-entrepreneursopleiding aan Solidariteit Helpende Hand-sentrumbestuurders

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Besigheidsbytjiesspan het op 23 November Solidariteit Helpende Hand in Centurion besoek om entrepreneursopleiding aan die sentrumbestuurders van die Helpende Hand Ons Plekke te bied. Dit vorm deel van Entrepreneursmaand. Die Ons Plek-gemeenskapsentrums dien kinders van die gemeenskap deur naskoolse versorging, hulp met huiswerk, voorsiening van kos en ook deur ander behoeftes raak te sien en daarmee te help.

AfriForum Sakenetwerk is AfriForum se aanlyn platform vir sake-eienaars en entrepreneurs. Daar is tans meer as 20 000 ondernemings op dié platform geregistreer. AfriForum Sakenetwerk bied ook netwerkgeleenthede vir ondernemings op dié gids, soos sakeontbyte, opleidingsessies en sosialemediabemarking. Hulle bied ook entrepreneurskompetisies, soos Die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie en Besigheidsbytjies wat uit die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie vir jeugdige entrepreneurs ontstaan het asook die jaarlikse glansgeleentheid, Tinteltong Toekennings, waar die kreatiefste Afrikaanse ondernemings bekroon word.

“Dit is vir ons baie belangrik dat kinders nou al die waarde besef om entrepreneuries te dink. Dat jy in staat is om self ’n plan te maak en nie vir ’n maatskappy of instansie hoef te wag om vir jou ’n werk te gee nie. Jy kan jou passie, gawes en talente in ’n inkomste omskep en selfs nog werksgeleenthede vir ander in jou gemeenskap bied,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.

“Dit is wonderlik om te sien hoe Afriforum en Solidariteit Helpende Hand kan hande vat, want deur hierdie opleiding aan die sentrumbestuurders te bied kan hulle weer hierdie belangrike entrepreneursvaardighede aan die behoeftige kinders oordra. Dit maak ons hande sterker, maar ook ons gemeenskappe – nie net vir nou nie, maar ook vir die toekoms. Dit is noodsaaklik om ons kinders in die gemeenskap te bemagtig deur hulle leierskapvaardighede ook te ontwikkel, want dit leer hulle om self verantwoordelikheid te neem en om hul unieke en innoverende idees uit te voer. Dit sal hulle ook aanmoedig om ’n verskil in die samelewing en in ons land te maak. Ons kinders is immers die leiers van die toekoms, en hulle kan hoop skep deur van jongs af aan hul toekoms te bou,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Entrepreneurskap is belangrik, omdat dit tot selfstandige ontwikkeling, selfverantwoording en uiteindelik onafhanklikheid lei. Wanneer jy ’n kind motiveer tot entrepreneurskap, help jy nie net om een kind te ontwikkel nie, maar vier generasies! Jy laat ’n nalatenskap, lánk nadat jy nie meer hier is nie. Daarom is die aanleer van vaardighede vir al ons leerders by Helpende Hand Ons Plek deel van die verdieping van ons dienste en deel van gemeenskapsontwikkeling,” sê Suzette Oosthuizen, hoof van sentrums en nasionale takke by Solidariteit Helpende Hand.

Vanjaar se Besigheidsbytjies-wenners is reeds aangekondig, maar die publiek kan gerus www.besigheidsbytjies.co.za dop hou vir volgende jaar se aanlyn entrepreneurskompetisie.

Soortgelyke plasings