|

Paarl-Noord-buurtwag neem aan nasionale patrollie deel

AfriForum se Paarl-Noord-buurtwag het op 14 en 15 Julie aan AfriForum se nasionale patrollie deelgeneem. Patrollies soos dié, waartydens buurtwaglede bymekaarkom, se doel is om sigbaarheid in die area te verseker en om die oë en ore van die polisie te wees.

Die massapatrollie het om 16:30 die Vrydagmiddag begin en tot 06:15 die volgende oggend geduur. Die buurtwaglede was deurlopend in radioverbinding met hul hoofkwartier in Noorder-Paarl.

Verskeie insidente is gerapporteer en verdagte persone en voertuie in Noorder-Paarl se strate is onder meer gekonfronteer en gevra om die area te verlaat. Verder is groepe mense wat in die publiek gedrink het gevra om uitmekaar te gaan en talle skerp voorwerpe wat moontlik as wapens gebruik kan word, is ook gekonfiskeer.

“AfriForum se Paarl-Noord-buurtwag wil graag al die rolspelers bedank, insluitend die vrywilligers, ondersteuners, die sekuriteitsmaatskappye ADT, WOLF en Vetus Schola asook al die patrollielede. Dankie ook aan die NG Gemeente Paarlberg vir die gebruik van hul perseel as vergaderpunt en Micromath Communication Specialists wat tweerigtingradio’s vir die aand beskikbaar gestel het. Die Paarl-Noord-buurtwag het onlangs oorgeskakel van ’n private buurtwag na ’n AfriForum-buurtwag, en met die sukses van hierdie eerste aksie is dit duidelik dat die tak net van krag tot krag sal gaan,” sê Jaco Prins, AfriForum se voorsitter van die Paarl-tak.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om aan te sluit by AfriForum se Paarl-tak of by die Paarl-Noord-buurtwag. Kontak Jacques Benade by 081 217 0008.

Soortgelyke plasings