|

Samewerking tussen gemeenskappe en regering kan waterkrisis hokslaan

Die oplossing vir die ernstige waterkrisis waarin Suid-Afrika tans is, kan slegs deur samewerking tussen gemeenskappe en die regering bereik word. Die huidige waterkrisis is ook nie net die owerhede se verantwoordelikheid nie. Dit was die duidelike boodskap by AfriForum se eerste waterberaad wat gister (24 Junie) in Centurion gehou is. Kenners het ook ’n droewige prentjie geskets, maar sê egter daar is planne en maniere om hierdie krisis die hoof te bied.

Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, word plattelandse dorpe die ergste geraak deur die waterkrisis. In ’n opname wat AfriForum onder ongeveer ’n 1 000 van sy lede in verskeie provinsies gedoen het, het 21% gesê hulle ervaar een of meer keer per week watertoevoeronderbrekings. Altesaam 58,54% het ook aangedui dat hulle glad nie hul plaaslike munisipaliteit se drinkwater wat aan hulle verskaf word, vertrou nie.

AfriForum het daarom reeds meer as 90 noodwaterpunte regoor die land opgerig om toegang tot skoon drinkwater te verseker wanneer daar watertekorte is. Omdat die organisasie ook besef het dat werkers op water- en rioolaanlegte nie altyd die nodig kennis het om hierdie aanlegte voldoende te bestuur nie, het AfriForum in samewerking met Water Group, Pionier Dienstemaatskappy en die Water Institute of Southern Africa (WISA) ’n geakkrediteerde opleidingskursus ontwikkel. 15 van AfriForum se personeel het reeds hierdie opleiding ondergaan en daar word beoog om binnekort nog personeel op te lei. AfriForum wil met hierdie kursus hande vat met munisipaliteite sodat die leemtes in die openbare water- en rioolsuiweringswerke die hoof gebied kan word.

“Die beraad was daarop gemik om mense bewus te maak van die krisis en dat hulle anders moet begin dink oor hoe water gebruik word, asook om kenners te mobiliseer om dié krisis daadwerklik te keer,” sê De Klerk.

“Gemeenskappe moet toegelaat word om met dienslewering te help. Hulle is meer as bevoeg om ’n bydrae te lewer sodat munisipale dienste koste-effektief gelewer kan word. Daar moet meer samewerking tussen waterverskaffers, regeringsowerhede, gemeenskapsgebaseerde organisasies, die sake- en landbousektor wees,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir Plaaslikeregeringsake.

Volgens Mostert moet die fondse wat beskikbaar is en hoeveel aan dienslewering bestee word, ook meer deursigtig wees.

Fred van Zyl, waterkonsultant, het tydens die beraad gesê water is ’n sonder-ophou-onderneming en dat water ’n noodsaaklike en strategiese hulpbron vir groei en ontwikkeling is. Volgens hom het dorpe lankal reeds ’n ewewig bereik tussen die beskikbaarheid van water en die aanvraag daarna.

Die hoeveelheid water wat verlore gaan in Suid-Afrika, is reusagtig. “Die swak implementering en swak bestuur van projekplanne kelder die beskikbaarheid van water,” sê Van Zyl.

Volgens hom kan die waterkrisis opgelos word as die politieke wil daar is om die krisis die hoof te bied. Van die grootste probleme met die waterkrisis is dat daar geen dringendheid is nie en ook bitter min nagevolge wanneer water swak bestuur of besoedel word weens swak instandhouding.

Volgens Van Zyl kan behoorlike vooruitgang nie bewerkstellig word nie weens die groot agterstand wat tans bestaan met betrekking tot die swak instandhouding van waterinfrastruktuur. Hy noem ook dat daar nie behoorlik vir die toekoms beplan is wat water en die bestuur daarvan betref nie. “Radikale intervensie is nodig om hierdie krisis op te los.”

Dr. Sean Phillips, direkteur-generaal (DG) by die Departement van Water en Sanitasie (DWS) is van mening dat dit nie genoeg is om net waterinfrastruktuur te bou nie, daar moet strenger opgetree word om water en die aanvraag daarna te bestuur.

Phillips het erken dat die DWS se Blou-, Groen- en Geendruppel-verslae toon dat die watergehalte die afgelope 10 jaar drasties versleg het. Volgens hom is die redes hiervoor dat munisipaliteite personeel aanstel wat nie die regte kwalifikasies het nie, die swak invordering van geld vir dienste gelewer en die ondoeltreffende prioritisering van begrotings vir instandhouding en die werksaamhede van munisipale rade.

Hy sê ook dat die groot bevolkingsgroei druk op water- en rioolwerke plaas. Die rol van die privaat sektor in die lewering van waterdienste in munisipaliteite moet verhoog word. “Ons het onlangs ’n ooreenkoms met die tesourie aangegaan sodat regulatoriese goedkeurings bespoedig kan word. Dit beteken dat openbare/privaat-vennootskappe (OPV’s) binne twee jaar daargestel kan word pleks van die vyf of ses jaar wat dit gewoonlik geneem het. So daar behoort binne die volgende jaar of twee meer OPV’s te wees,” sê Phillips.

Kapenaars het in 2017 en 2018 baie vinnig geleer hoe om met minder water oor die weg te kom toe hulle een van die ergste droogtes nog beleef het en baie naby aan Dag Zero was. Dr. Lloyd Fisher-Jeffes, tegniese dienste bestuurder getaak met die grootmaat lewering van water in die Kaapstad-metro, het die verskeie lesse wat tydens hierdie droogte geleer is, gedeel en sê daar is destyds besef dat ’n mens jou nie uit ’n droogte kan bou nie, maar dat daar beplan moet word vir die toekoms. Die stad en sy inwoners het ook begin om die manier waarop hulle water gebruik te herbedink. Dag Zero was inderdaad ’n wekroep, sê hy.

Volgens hom kon hulle dié krisis oorkom deur die waterdruk te verlaag, wat tot ’n besparing van 70 kiloliter per dag gelei het. Waterlekke is ook dadelik herstel.

“Watersekuriteit is almal se verantwoordelikheid.”

Running Dry – A Nation on the Brink, AfriForum se nuutste dokumentêr, is ook by die beraad bekendgestel en beklemtoon hoe dringend oplossings vir die land se waterkrisis gevind moet word. Volgens De Klerk beoog hulle om later vanjaar nog ’n episode beskikbaar te hê.

Soortgelyke plasings