|

SEB verryk elite en bereik nie sy doel, meen kenners

Die boodskap by AfriForum se konferensie waar die regering se verskeie rassebeleide bespreek is, was duidelik swart ekonomiese bemagtiging (SEB) móét beëindig word. Die vernietigende gevolge van SEB en ander rassebeleide wat die ANC-regering oor die jare ingestel het, kan duidelik gesien word in die agteruitgang van dienslewering, die skrikwekkende hoë misdaadsyfer, die groei van die werkloosheidsyfer en verarming van die kwesbaarste mense in die gemeenskap.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, word SEB gebruik as ’n afleiding vir die regering se menigte tekortkominge. “AfriForum is gekant teen SEB. Die ANC-regering gebruik dit bloot as ’n verskoning om hul vernietigende beleide te implementeer. Die rassebeleide van die vorige bedeling was verkeerd, maar so ook die rassebeleide van die huidige regering,” sê hy.

Van Zyl het daarop gewys dat die regering se rassebeleide op alle vlakke van die samelewing ’n rol speel. “Die regering skep die illusie dat hulle probleme oplos en swart mense bemagtig, maar eintlik is dit net die elite wat verder verryk word. Dit sal beter wees om die skoolstelsel reg te ruk, iets noemenswaardig aan die misdaadsyfer te doen of die land se kragkrisis uit die weg te ruim.”

Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum

Martin van Staden, hoof van beleid by die Vryemark Stigting, het skokkende syfers oor wetgewing wat sedert 1994 in die land geïmplementeer is tydens sy praatjie bespreek. Tot en met Oktober verlede jaar is 116 wette wat met ras te maak het, ingestel. In die vorige bedeling was daar in 1980 123 rassewette, wat tot op daardie stadium die meeste ooit in Suid-Afrika was. Teen 1996 was daar net 56 rassewette, maar in 1998 is ’n rekord 20 nuwe sulke wette ingestel en in die jaar 2000 nog 17. Sedert Suid-Afrika se uniewording in 1920 was die meeste rassewette wat ooit in ’n vorige jaar ingestel was in 1976 toe nege aanvaar is. Daar is nou meer as 140 raswette.

“Die regering gebruik rassewette om vriende en familie in belangrike posisies aan te stel. Dit word ook gebruik om die regering se swak prestasies en korrupsie te verbloem. Suid-Afrika se rassewette is verwoestend,” sê Van Staden.

Martin van Staden, hoof van beleid by die Vryemark Stigting

Phumlani Majozi, politieke analis en skrywer, sê dis tyd dat die vraag gevra word of die dinge waarmee die regering besig is tot voordeel van die land strek. Hy meen soos Van Zyl dat die skoolstelsel moet verbeter en dat werk geskep moet word.

“Alle vorme van rassediskriminasie moet geskrap word as ons regtig ’n positiewe verskil wil maak. Eerder as om bloot na iemand se velkleur te kyk om te bepaal waar hulp verleen moet word, moet ’n mens eerder na individue se sosio-ekonomiese omstandighede kyk om te bepaal wie eintlik hulp nodig het. As dit nie die geval is nie, kan ’n mens maklik die ryk elite net nóg ryker maak. Politici is mal oor SEB, want dit laat dit lyk of hulle omgee,” sê Majozi.

Phumlani Majozi, politieke analis en skrywer

Die sprekers het ná afloop van hul praatjies tydens ’n paneelgesprek gesê SEB het nie die doel waarvoor dit ingestel is bereik nie. Dit is nie besig om laer inkomste swart mense te bemagtig nie en is eerder besig om ekonomiese groei te belemmer terwyl dit net meer geld in die sakke van die ryk swart elite prop.

Soortgelyke plasings